Om tyd te kry vir Stiltetyd

by Blogger - Marida Steurer / Apr 26, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 738 mense.

Ek sit (veral) sedert ek kinders het met ʼn skuldgevoel. Dit knaag aan my en laat my sleg voel.

Op hierdie webwerf word my blogs onder ‘Ouerskap’ geplaas en daarom reken ek dat die deursnit leser min of meer weet waarvan ek praat as ek ʼn seisoen in my lewe beskryf waar ʼn ononderbroke alleen oomblik in die badkamer as luuks beskou word.  ʼn Tyd van my lewe waar ek dik John Grisham boeke ingeruil het vir tydskrif artikels of Time Magazine se piktogramme waar wêreldkwessies met prentjies opgesom word.

Met drie juffertjies wat in minder as drie jaar gebore is en met my besigheid wat ek van die huis af bedryf, was daar van die begin af min stilsit tyd.  As ek wel stil gesit het, het ek aanvanklik summier aan die slaap geraak.  My haarkapster kan dit bevestig.

My skuldgevoel gaan oor die feit dat ek tussen dit alles deur nie so gereeld by stiltetyd uitkom as wat ek graag wil nie.  Ek het dit op ʼn stadium by ʼn Bybelstudiegroep genoem.  Van die ouer tannies se reaksies oor hoeveel tyd hulle wel beskikbaar het, maar hoedat hulle smag na hulle kinders in hulle huise, het my laat besef dat hierdie ʼn seisoen is.  Ek het besef dat ek hierdie tyd  nooit verby mag wens nie. Ek het nog altyd so gevoel, maar opnuut weer besef dat dit ʼn ONBESKRYFLIKE GROOT VOORREG is om kinders in my huis te kan hê.

Ek weet ook dat my verhouding met die Here die hoeksteen is waarop al my ander verhoudings gebou word en dat ek daarom moeite hiermee moet doen. My broer het op ʼn slag gesê dat as hy stiltetyd vir ʼn week oorslaan, dan kom die Here dit agter.  As hy dit vir twee weke oorslaan, kom hy dit self agter en as hy dit vir drie weke oorslaan, kom die mense rondom hom dit agter. 

Ons stiltetyd met die Here is daarom krities, maar om heeltyd met ʼn skuldgevoel te loop hieroor, was ook nie opbouend nie.  Dit was asof die vyand dit reggekry het om dit as ʼn wapen te gebruik wanneer ek dan wel by stiltetyd uitgekom het.  Ek het telkens so sleg en skuldig gevoel dat my stiltetye eintlik daaronder begin ly het.  My man het dit eendag vir my uitgewys, hoedat ek byna elke keer net hierop gehamer het wanneer ek en hy saam Bybelstudie hou.

Ek het besef dat Jesus se oorwinning mos ook hieroor was.  Ek het my skuldgevoel vir Jesus geneem.  Ongelooflik hoedat die vyand juis ons goeie bedoelings teen ons inspan!

Alhoewel ek, noudat al drie my juffertjies in die skool is, meer tyd kry vir stil retreat tye saam met die Here, moet ek nog steeds elke keer hiervoor kies.  Ons skedules is vol en dagboeke vul hulleself as ons nie bewustelik tyd hiervoor opsy sit nie.  Om onnodige skuldgevoelens hieroor saam te dra, teken egter punte vir die verkeerde span aan.

Ek het besef dat my verantwoordelikhede ook ʼn seën uit die Here se hand is en dat ek Hom ook hierin moet kan raaksien en eer. 

Een van ons voorgeskrewe gedigte op skool was Jan Swanepoel se gedig “Die ganse dag is ene God”.  Ek het dit weer gaan opsoek:

soos destyds is U ook vandag
nie in die donker onweer nie, nie
in die weerlig wat die hemel
helblink skeur as teken
van u krag; al luister
ek hoe fyn vandag: selfs in die ligte
ruising van die wind is U
ten ene male nie, maar oral
in my oë en ore: die ganse dag
is ene God: ʼn swaeltjie
swenk en vou die hemel
blou-blou om sy rug ʼn geelvink
sketter vol van son, vandag
weerklink U in my kind
se skaterende skaterlag.

Net soos wat God in alles rondom ons is, kan ons Hom ook verheerlik in alles waarmee ons besig is. Of dit is om Bybelstudie te hou, babas te burp, kliënte te bel of die speelgoedkas vir die hoeveelste keer reg te pak… Soli Deo Gloria!

  • Blogger - Marida Steurer

    Marida is 'n bestuurskonsultant en ma van 3 laerskool juffers. Dit sorg vir 'n wipplank ryery tussen skooltake, buitemuurs en pre-tiener uitdagings teenoor korporatiewe opleidingsplanne, begrotings en sperdatums. Sy is baie lief vir die Here en glo dat Hy relevant is in elke faset van ons lewe. Sy is getroud met Juppi en saam hou hulle van rond reis en bordspeletjies. Volg Marida se Koffie met die Koning blad op Facebook of http://www.maridasteurer.wordpress.com/

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.