Nou is jou tyd!

by Blogger - Alta Strauss / Jan 10, 2017 / 1 Kommentaar / Gelees deur 1306 mense.

Elke nuwe jaar is byna soos 'n splinter nuwe hoofstuk van jou lewensverhaal en daar is soveel dinge om na uit te sien. Die vorige hoofstuk is nou afgesluit en die nuwe hoofstuk, gelaai met intrige, lê voor. Nuwe hoogtes om te bereik, mense om te ontmoet, lesse om te leer, herinneringe om te maak en te koester...

My hart is propvol verwagting vir hierdie wonderlike jaar en ek kan behoorlik soos die Psalm-digter sing, “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” Psalm 118:1 AFR83

Ek wil jou bemoedig met hierdie woorde, "Nóú is jóú tyd!", moenie rond sit en wag vir dinge om te gebeur en hopelik jouself te vind in die proses nie. Staan op, druk deur, maak die beste gebruik van elke geleentheid en wees die beste weergawe van jouself!

Op pad na die Noord-Kaap maak ons dogtertjie die kostelikste opmerking, "Mamma, ek is nie normaal nie, ek is ongelooflik!", en is dit nie net waar van elkeen van ons nie? Ons is nie een net ordinêr geskep nie. Ons is oorspronklik, ongelooflik en uniek aanmekaar geweef en elkeen is hier vir 'n tyd soos hierdie.

2017 gaan 'n fantastiese jaar wees, want ons dien 'n fantastiese, onbeskryfbare, wonderbare Here en Hy is goed! Alles wat Hy doen is goed en elke gedagte wat Hy het aangaande jou is goed!

Besluit om hierdie jaar jou beste jaar te maak. Besluit om voluit en dankbaar te lewe. Moenie dat wat verby is jou terughou nie en moenie bang wees nie. Glo, droom groot en werk hard. Met die Here aan jou sy, gaan hierdie jaar nie met jou gebeur nie, maar gaan jy met hierdie jaar gebeur!

Opgee is nie 'n opsie nie, jy kan en jy gaan!

  • Blogger - Alta Strauss

    Alta Strauss is ’n voltydse evangelis, skrywer, spreker, HFB en medestigter, tesame met haar man, Ev. Hein Strauss, van Word For The World Ministries (NWO). Alta en haar man, Hein, is al 11 jaar gelukkig getroud en geseën met 'n pragtige dogter, Esteè. Sy spits haarself toe op die vurige verkondiging van die evangelie en om ander gelowiges, op 'n openhartige wyse, toe te rus en te besiel tot 'n lewe van onwrikbare geloof in Jesus Christus.
    Ontwerpe vir Blogs: design@marcellevann.com

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.