Netwerk

by Blogger - Toortsie / Oct 10, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 84 mense.

Ek was besig om ‘n kluisenaar te word.

Ek is lief vir mense. Ek het op ‘n gereelde basis mense om my nodig. Alhoewel ek ook redelik taakgerig kan wees, is ek meerendeels ‘n I in die DISC persoonlikheidstabel. I staan vir Inspiring, of Influental. Nie dat ek myself as inspirerend of invloedryk sal beskou nie, maar die I-persoonlikheid is ‘n kombinasie van ‘n uitgaande persoon wat meer mens-georiënteerd is.

Sonder dat ek dit besef het, het ek al hoe eensamer geword, al hoe meer in myself gekeer. Ek het my al hoe meer op my gesin en ons besigheid toegespits en, ongemerk meer en meer onttrek van mense. My kantoorwerk op die plaas het my besig gehou en intussen moes ek baie en ver ry vir my kinders. Daar was net nie meer tyd om allerhande vroue-oggende en ander funksies by te woon nie.

Ek het agtergekom dat ek my kommunikasievaardighede begin verloor. Ek kon glad nie meer name onthou nie, en het my stilweg al hoe meer gewend na boeke en blogs. In die proses het ek ook vertroue in myself en my mense-vaardighede verloor.

Toe ons dus semi-dorpenaars word het ek myself voorgeneem om, indien dit enigsins moontlik is, elke funksie, vroue-oggend, of waarvoor ek ook al genooi word, by te woon. Ek wou weer die bande met mense optel. Wát ‘n genade! Wat ‘n plesier! Wat ‘n herlewing van my persoonlikheid!

Dis VLV en Besigheidsvroue, dis Christusfees en Kankervereniging, dis Pedro Kruger en Lag-yoga, ag, noem dit op! Ek leer baie dinge, maar die meeste van alles, geniet ek dit voluit. Elke vergadering en elke funksie is opbouend en héérlik. Skielik begin die name wat ek so vergeet het, terugkom. Die mens-vaardighede ook! Ek kan weer lekker gesels oor sommer baie dinge! Ek geniet my ekstrovertwees weer voluit. Ek LEWE!

Groetnis

Toortsie

(Foto: Alyssa Bellingan)

  • Blogger - Toortsie

    Madelé Burger (Toortsie) is 'n ma, ouma en boervrou. Sy en haar man, Kobus Burger, boer in die Overberg. Madelé is betrokke by die administratiewe kant van hul gemengde boerdery.  Sy het ‘n BComm-graad en HOD aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, sowel as diplomas in Christelike Nood- en Traumaberading en Bybel- en Godsdienskunde aan die Hugenote Bybelinstituut, en ‘n sertifikaat in Vervoerekonomie aan die Universiteit van Johannesburg. Besoek haar blog: toortsie.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.