‘n Nuwe begin

by Blogger - Kotie Nigrini / Jan 10, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 347 mense.

In ‘n blikkie van my ma se kinderdae ruik ek vandag weer die poeier aan die sneesdoekies en fyn handskoene van my oumagrootjie, wat ek met sorg daarin gepak het. Ek bewaar met groot liefde ‘n pienk geskenksakkie met al die mooi kaartjies van skoolmaats en briewe wat ek van oorsee ontvang het toe my niggies in Amerika gewoon het.

Ek het sommer ‘n skoenboks gebruik om al die kamera films in te bêre, vir as ons nog kopieë sou wou maak. Dan is daar my ekstra spesiale boksie met die foto’s van my kinders se sonars, ‘n foto van my by my eerste karretjie wat ek self gekoop het, my eerste dag op universiteit, my gunsteling foto van my troudag.

Die afgelope weke het ek sorgvuldig my man se bokse ingepak. Soos elke item toegedraai en verpak is, het ek daarvan afskeid geneem. Bietjie vir bietjie kon ek gewoond raak aan die leër kaste, die minder koffiebekers, handdoeke, foto’s. Later ook die leë klerekaste. Stadig kon ek myself oriënteer dat die einde van 2016 ook met sekerheid die einde van my huwelik was.

Ek en die kinders het tussen Kersfees en Nuwejaar gaan vars lug skep in die mooie Kaap, maar meer gereeld as wat ek sou verkies het my gedagtes gaan grawe in my skatkiste vol herinneringe van lag en saamwees met my geesgenoot, my beste vriend. Dan kan mens nie help om te wonder wat op aarde gebeur het nie, want die feite voor jou wil net nie die legkaart voltooi nie.

1 Januarie lees ek op Facebook Johannes 14:27 raak wat sê “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”

Ek peins oor die wete dat ek beide is. Dit ontstel my dat my gesin verbrokkel en ek dit nie kon keer nie. Dit ontstel my dat my kinders by my huil. Ek is bang vir die toekoms en hoe ek op my eie gaan regkom sonder my maat met wie ek my beste jare tot op hede gedeel het. Ek is net ‘n mens en ek voel oorweldig.

2 Januarie ontvang ek dieselfde gedeelte as die “vers van die dag” op my selfoon. Dié keer lees ek dit stadiger en met meer aandag. 1 Johannes 5:15 leer ons juis dat “Hy ons gebede verhoor as ons iets sò vra” en daarom “weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra”. Dit is natuurlik as dit Sy wil is. Maar ek glo omdat Hy in Johannes 14:27 sê dat Hy sy vrede vir ons gee, ons almal met vrymoedigheid mag vra vir leiding in ons ontsteltenis en vrese.

Daarom glo ek dat die Here in oorvloed sal voorsien in 2017. Ek glo daar sal nuwe boksies kom om nuwe spesiale herinneringe in te bêre. En as ek dit dan oor ‘n paar jaar oopmaak, dit sal lekker ruik en my aan ‘n mooi tyd herinner, net soos die sneesdoekies. Soos Dawid in Ps 23:4 sê “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig.”

 

  • Blogger - Kotie Nigrini

    Ek is gebore en getoë in Pretoria. Alhoewel ek nog altyd lief was vir skryf, het ek eers werklik die pen opgetel na my dogtertjie se insident tydens 'n operasie.
    Ek werk as 'n BI spesialis en is 'n enkelma vir Hendrik, Alida en Roelf. Wanneer die tyd dit toelaat is ek lief daarvoor om kreatief te wees met ʼn groot voorliefde vir hekel. Met 'n skatkis vol verhale vanuit my gesin en familie, wil ek 'n boodskap van hoop bring. Die Here ìs. https://ekhetnstemblog.wordpress.com/

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA