‘n Man soos my Pa

by Blogger - Christel Coetzee / Mei 17, 2017 / 3 Kommentaar / Gelees deur 2684 mense.

Wanneer jou Pappa nie meer sy arms om jou kan vou om die kneusplekke wat die wêreld agter laat te vertroos nie, verlang jou hart vir ewig.

Ek dink terug aan die rose uit ons tuin wat hy agter sy rug weggesteek het, juis op die dae wat ek my kamer deur ekstra hard toegeslaan het. Wanneer ek dit die minste verdien het, het hy my omhels met die meeste liefde.

Vandag is moedersdag. My hart dans vandag saam met die herinneringe uit my verlede. Wanneer Pa my Vrydae middae by die koshuis kom haal het, moes ons eers stop om vir Mamma ‘n bossie blomme te koop. Hy was gek daarvoor om haar te bederf en met sy kinderlike opgewondenheid in afwagting haar reaksie fyn dop te hou.

Vandag is Mamma ver en Pappa is nie op pad met ‘n bossie blomme, haar gunsteling parfuum of ‘n boksie sjokolade nie.

“Liefie, gaan klim gou terug in die bed! Die kinders is besig om vir jou ontbyt te maak.” My man se stem bring my terug na vandag - my eie moedersdag. Ek sluip verby die kombuis en gaan spring weer terug in die bed.

Ek voel hoe ‘n klein ys koue handjie my wang aanraak. “Mamma, wakker word”

My seuntjies staan met arms vol tuisgemaakte geskenkies, die glimlaggies op hul gesigte maak ‘n afdruk in my hart se spens. Manlief staan agter hulle met die skinkbord, waarop hy ‘n blom uit ons tuin gepluk het (nes Pappa sou gemaak het).

Ek is nog besig om die liefdes-briewe te lees toe die onderhandelinge reeds begin. “Mamma, jy kan hierdie sjokolade eet, dan gaan jy vir my daai enetjie gee nè?”

Ons kuier heerlik onder die komberse – ek tel my seëninge! Die manne gaan eindelik elkeen in sy eie rigting en ek kry die geleentheid om my Ma te bel.

Ek knyp my oë styf toe, want ek hoor haar stem breek oor die foon en ek voel my eie trane brand in my binneste.

Ek is vandag dankbaar vir ‘n Pa wat sy gesin so innig liefgehad het, dat sy grootste vreugde die geluk van sy geliefdes was. My man is daardie voorbeeld vir ons seuns en ek voel vandag soos die gelukkigste vrou op die ganse aarde!

Ek en my Ma verlang vandag na daardie saam-wees tye, maar ek kan sê dankie vir ‘n man soos my Pa. ‘n Man wat sy kinders die waarde leer van liefhê sonder perke.

Dankie Mamma, dat jy geweet het wat jou eie waarde is en daarom my Pa gekies het, ‘n man wat jou kon eer en liefhê en die waarde wat God in jou deponeer het ontgun.

Ek het ook so ‘n man gekies Mamma - ‘n man soos my Pa.

  • Blogger - Christel Coetzee

    Christel Coetzee geniet die ligter sy van die lewe, maar haar hart vind ook anker in dinge wat werklik saak maak! Sy streef ewig daarna om die perfekte balans te vind tussen vrou-wees, Ma-wees vir haar pragtige drie seuns, ‘n huweliksmaat vir haar man, Braam en haar dinamiese rol in die korporatiewe wêreld. Sy droom daarvan om regoor die wêreld te reis en om haar deel te doen om ‘n veranderde wêreld te sien.

kommentaar (3)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.