‘n Ma se mensies...

by Blogger - Liana Schönborn / Aug 25, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 170 mense.

My ma het altyd gesê: “My kindjie elke huis het sy kruis.” Ek wil dit vereenvoudig deur te sê: “Elke huis sluit enetjie in wat so ‘n knertsie meer gebed vereis as die ander, vir welke rede ook al.”

Almal swyg daaroor, almal dus kwalik bewus dat ‘n buurvrou, mede-bid mamma by die skool of toevallige verbyganger in die Pick en Pay ook een het. Dis kompleet of ons dit as swakheid sien, aan ons as ma se kant natuurlik. Altyd het ek gewonder of het ek straks nie genoeg gebid voor die betrokke mensie se geboorte nie, dalk té veel verkeerde of negatiewe woorde gespreek, moontlik te min of te veel aandag as baba gegee. Of daardie eenkeer wat ek dit verloor het met hom as kleuter was bepaald die finale knou. Helaas, diep in my hart weet ek dis nie die waarheid en vou my mensie van voor af toe in gebed. Op dae wanneer die swaarkry fel in die bruin oë lê, moet ek verwoed stry teen skuldgevoelens jeens self. Sommige dae is die stryd hewiger as ander, dae waar ek om Sy voete boer:

“Here, hoe verstaan ek dit? U vertel in U woord van beproewing en pyn wat ons sterker maak. U praat van goud wat gesuiwer en gelouter word. Ek moet my mensie heeltyd vertel hoe sterk hy kwansuis word oor hy harder as ander moet werk, en niks ooit net gemaklik vir hom gebeur nie. Sy vlerkies lyk verseker nie vir my so danig sterk nie Here, jok ek dan vir die kind?”

Liefdevol en geduldig soos ek Hom ken herinner Hy my dan aan ernstige, wat my regop kon hou, gebede wat ‘n bruinoog al gebid het in moeilike tye van ons gesin. Vol geloof uitsprake in dae wanneer ek moed wou verloor en nat bruinoog wimpers as hy sien sy ma trek swaar.

Ek besef dan, dat sterk wees nie noodwendig uiterlik sigbaar is en ook nie by almal dieselfde ly nie...God se skeppings is uniek, selfs sy gesinne is uniek. Die dinamika hiervan sal ons dalk nie eers in die hier en nou verstaan nie, maar ons kan verseker wees Hy het geweet wat Hy doen toe Hy ons saamgesnoer het. ‘n Ma skep weer moed, haal dieper asem en dank Hom vir enetjie wat  verseker dat Sy dit nooit té ver van Hom sal waag nie...

  • Blogger - Liana Schönborn

    Ek is ’n bevoorregte tuisbly mamma van 3 kinders. ’n Sagte tiener, ’n vrolike Blom en ’n Kleinman wat ’n ding sê soos hy is. Ek is lief vir my God, vreeslik erg oor my Hoof van 17 jaar en mal oor my kinders. Skryf is een van  my passies en ek deel graag my reis deur die lewe met mede-mamma’s. Mag ek hoop bring, geloof weer laat opflikker en elke leser se hart roer, as instrument in God se hand. Volg ook my persoonlike blog by: http://doodgewonema.wix.com/doodgewonema

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.