’n Ma se jaar...

by Blogger - Liana Schönborn / Jan 04, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 86 mense.

Toe die karavaan gehaak, die motorhek stadig toegaan en die slot veilig inknip is ek meer as gereed vir hierdie vakansie. My woorde klink elke jaar soos ’n vasgehaakte plaat. “Hierdie was ver die moeilikste jaar ooit!” Telkens wanneer ek dit uitspreek dink ek dat ek dalk meer respek moet hê vir die krag van woorde...

Met die wegtrek bid ’n Blom vir ons veiligheid op die pad, ons effe olike Labrador wat ons agterlaat en groot klompe Engele rondom ons huis om teen inbrekers te beskerm. Ons pak ons reis aan en my gedagtes reik terug na ’n jaar wat verby is.

Ek loer skuinsweg na ’n Tiener met ’n sonbril en oorfone. Ek verlang bietjie terug na ‘n tyd toe ek slegs een maal per week moord oorweeg het en nie daagliks soos tans die geval is nie. Die yslike stuk mens waarin hy besig is om te verander is vir my onrusbarend en ek vermoed daar lê nog talle sentimeters van groei vir ons voor. Die begroting sal moet kophou by hierdie spoed groeifase. Ons eerste Hoërskool jaar was nie glad en deiningloos soos ek gehoop het nie, maar vol sigbare groei op verskeie belangrike gebiede.

’n Kleinman weer, se jaar het veel meer voorspoedig verloop as wat ek ooit kon droom en ek is diep dankbaar. My oë kyk vas in my liefste Blom se bruin kykers. Sy self het ’n paar sentimeters fisies en emosioneel gegroei waarop sy danig trots is, ek ook. Hierdie intense mensie se stil, dog sterk, willetjie het my soms onkant betrap, my wenkbroue hoog laat lig en selfs hier en daar ’n traan laat pik.

Amper by ons bestemming en my oë gly oor die Hoof van my. Hy wat my steeds elke dag red soos dit ’n goeie prins betaam. Hetsy dit is van moedeloosheid, hartseer, bekommernis of sommer net onsinnige vrese. Hy doen dit absoluut onvoorwaardelik. Ek dink aan ’n jaar sê op- en af tye en is dankbaar dis verby.

Toe ek ons vakansie tuiste sien fluister ek vir Hom: “Dankie Here, vir die vier liefdes in my lewe, dankie dat U hul elke enetjie hand uitgesoek het vir my en dankie dat ek hulle vir so ’n paar dae net vir myself kan hê. En Here, dankie dat die jaar wat kom meer geseënd, meer suksesvol en gevul sal wees met groot arms vol van U tasbare teenwoordigheid. Amen.” 
 Liefste Mede Ma, ons almal se jaar het deinings, ruwe golwe en storms gehad. Kom ons bid vir mekaar en vertrou vir mekaar dat 2017 se deinings, golwe en storms piepklein sal vertoon teen 2016 s’n. xx

Top of Form

 

  • Blogger - Liana Schönborn

    Ek is ’n bevoorregte tuisbly mamma van 3 kinders. ’n Sagte tiener, ’n vrolike Blom en ’n Kleinman wat ’n ding sê soos hy is. Ek is lief vir my God, vreeslik erg oor my Hoof van 17 jaar en mal oor my kinders. Skryf is een van  my passies en ek deel graag my reis deur die lewe met mede-mamma’s. Mag ek hoop bring, geloof weer laat opflikker en elke leser se hart roer, as instrument in God se hand. Volg ook my persoonlike blog by: http://doodgewonema.wix.com/doodgewonema

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA