‘n Ma se gebed vir moedverloor dae...

by Blogger - Liana Schönborn / Sep 07, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 125 mense.

“Here, net hier in die middel van die week, in die middel van my dag, wil ek  kom erken dat my gemoed bykans so mistroostig soos die weer daar buite is. Vir U kom vertel dat my hoop soms wankel. Ek wil U voete deurweek met my trane en uitskree dat ek nie altyd so danig sterk is as wat ek voorgee nie. Wil U bombardeer met al my hoekoms en my nimmereindigende waaroms voor U uitpak. My twyfel in die mensdom en die wêreld kom blootlê, my kwaad oor die lewe soms gebeur in ‘n volgorde wat ek anders sou wou voorskryf. My kinders en hul onvolmaaktheid voor U werp en my skuldgevoelens oor hul foute aan U kom uitbasuin. Die hope foute wat ek daagliks maak met U deurpraat.

Meeste van als, Here, wil ek U smeek soos in Ps 27:4-5 in die Amplified:

“One thing I have asked of the Lord, and that I will seek:
That I may dwell in the house of the Lord [in His presence] all the days of my life,
To gaze upon the beauty [the delightful loveliness and majestic grandeur] of the Lord
And to meditate in His temple.

For in the day of trouble He will hide me in His shelter;
In the secret place of His tent He will hide me;
He will lift me up on a rock.”

Here, want ek weet, as ek daagliks in U teenwoordigheid bly en my verkyk aan U grootsheid en prag, sal ek onomwonde weet dat dit nie sou saak maak in watter volgorde my lewe gebeur nie, want ek sal dit dan met vrede en kalmte tegemoet kan gaan.

Sonder twyfel sou ek weet dat as die aanslae van die lewe my probeer oorrompel U my veilig sal hou, my sal wegsteek en beskut teen die ergste seerkry.

U dankbare, absoluut onperfekte kind.

Amen”

  • Blogger - Liana Schönborn

    Ek is ’n bevoorregte tuisbly mamma van 3 kinders. ’n Sagte tiener, ’n vrolike Blom en ’n Kleinman wat ’n ding sê soos hy is. Ek is lief vir my God, vreeslik erg oor my Hoof van 17 jaar en mal oor my kinders. Skryf is een van  my passies en ek deel graag my reis deur die lewe met mede-mamma’s. Mag ek hoop bring, geloof weer laat opflikker en elke leser se hart roer, as instrument in God se hand. Volg ook my persoonlike blog by: http://doodgewonema.wix.com/doodgewonema

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.