’n Ma leer van tydsberekening...

by Blogger - Liana Schönborn / Jan 10, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 351 mense.

Op pad om Kleinman se tiende verjaardag te vier, is ons klomp almal in ’n ligte luim. Die Tiener wat soms die mees verbale van ons almal is, mits dit egter korreleer met sy bui vir die dag, vermaak ons met sy kwinkslae... dít gebeur egter ook slegs in korrelasie met die bui van die dag. Ons is al skertsend en geselsend toe die Tiener se brekerige stem met ’n histeriese pitch ons uit die feestelike luim skud.

Agterna wonder ons steeds wat hy probeer skree het, want ons kon aanvanklik nie die histerie pyl of hoegenaamd enige woorde uitmaak nie. Toe ek egter reg voor my kyk kon ek die rede van sy geskree sien en het self gevoel hoe my hart aan die galop gaan. In ons baan, reg van voor, is ’n klein wit motortjie besig om reguit op ons af te ry... Kop aan kop is al wat deur my gedagtes gaan.

Ek word egter uit my staat van paniek geruk toe ek die klein oumenskoppie net bo die stuurwiel sien uitsteek. Met handjies in die lug, kompleet asof hy handsup, nader hy ons. Die Hoof wat bestuur het, ry stadig tot langs hom, kry skaars ’n woord in soos die oom verskoning maak vir sy fout. Kalm verduidelik die Hoof aan hom hoe ons voor hom sal ry sodat hy agteruitry kan ry tot waar hy in die regte baan kan indraai. Met verligting duidelik sigbaar op die gesiggie, begin hy agteruit ry met ons wat as buffer reg voor hom ry. Kwaad motoriste jaag verby, daar is toeters wat blaas en tekens wat gewys word. Ons laat ’n dankbare en verligte Oom, wat nou blyk veilig te wees, agter en vertrek na die feesviering.

Op pad kan ek nie nalaat om my gesin te herinner aan ons God se perfekte tydsberekening nie. Hulle daarop wys hoe dinge vanoggend vir ’n ou oompie veel anders kon uitdraai op ’n baie besige pad. Later die aand toe ek rustig tyd met Hom verwyl smeek ek saggies: “Here, my kinders is nog jonk maar mag ek vra dat U op hul lewenspad hulle so sal beskerm. Here, dat U tydsberekening altyd in hulle lewe so perfek sal wees soos in ons wonderwerk oggend. Sal U gee dat wanneer hulle ’n afrit mis, of diep in gedagte verkeerd draai, daar vir hulle Samaritane op die pad sal wees om onvoorwaardelik hulp aan te bied. Ons almal maak foute Here en vat soms verkeerde afdraaie, maar nie almal is altyd so gelukkig om ’n medemens op die pad te hê wat genoeg omgee nie. Dankie, dat ons vandag die Samaritane op ’n ou oom se pad kon wees en die kinders ook terselfdertyd ’n broodnodige lewenswaarheid kon leer. En Here, seën en beskerm ons Oom, oral waar hy nog mag gaan . Amen.”

  • Blogger - Liana Schönborn

    Ek is ’n bevoorregte tuisbly mamma van 3 kinders. ’n Sagte tiener, ’n vrolike Blom en ’n Kleinman wat ’n ding sê soos hy is. Ek is lief vir my God, vreeslik erg oor my Hoof van 17 jaar en mal oor my kinders. Skryf is een van  my passies en ek deel graag my reis deur die lewe met mede-mamma’s. Mag ek hoop bring, geloof weer laat opflikker en elke leser se hart roer, as instrument in God se hand. Volg ook my persoonlike blog by: http://doodgewonema.wix.com/doodgewonema

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.