My Geloofs-held

by Blogger - Antoinette Greeff / Mei 10, 2017 / 1 Kommentaar / Gelees deur 592 mense.

My hart pyn!

Met ons kuikens in die bed en my lyf skoon geskrop van van die werk-week, sit ek lui-lekker in my pajamas op die bank. My vingers beheer die DSTV afstand beheer met vaardigheid opsoek na ‘n lekker fliek vir my en manlief.

“Me before You” pronk op die opvang titel lys en ek slyp my tande vir ‘n lekker liefdesverhaal. Manlief stem gedwee in, en ek sit die skinkbord met peuselhappies en drinkgoed binne bereik om nie die momentum te onderbreek nie.

Twintig minute later lewer manlief kommentaar : ‘Hierdie gaan nie goed eindig nie!’; en ‘n uur later vloei die trane onbeskaamd oor my wange, en soos die laaste toneel se beeld wegsterf ervaar ek regte egte hartseer.

Manlief troos en herninner my aan die feit dat dit net ‘n storie is, maar die hartseer wil nie wyk nie. Ek slaap sleg. Die volgende oggend laai ek die e-boek af, want miskien, net miskien het hulle soveel van oorspronklike boek vir die fliek verander vir die ‘Hollywood –effek’. Ek verorber die boek, en tot my teleurstelling eindig dit net soos die fliek.

Hierdie verhaal spook by my vir dae, en manlief skud net sy kop. Die Dinsdagaand tref dit my soos ‘n bom; hierdie verhaal spook by my want dit daag die beginsel dat liefde genoeg is, trompop uit. In hierdie verhaal, waar die heldin Louise Clark haar liefde en hart vir die held Will Traynor gegee het, was dit op die ou eind nie genoeg nie.

Realistiese, harde bene om aan te kou.

Hoe gereeld hoor ons nie van paartjies se paaie wat skei, waar mense verbaas  sê: ‘Maar hulle was dan so lief vir mekaar!’ Realiteit is, dat liefde net een bestandeel van die resep van ‘n huwelik is, en as die ander bestandele ontbreek of in verkeerde mates aangewend word, die resultaat nie suksesvol sal wees nie. Liefde op sigself is dalk nie genoeg nie, maar dien as katalisator vir die byvoeging van ander ‘bestandele’ soos respek, vertroue, aandag, geloof  en nog meer.

Ek kan uiteindelik laat gaan van my hartseer toe manlief weereens troos: ‘Maar Antoinette, ons God se liefde is groter as wat ons ooit sal kan verstaan. Sy liefde IS genoeg. En as ons ons huwelik geanker in Hom hou, sal ons liefde vir mekaar ook genoeg wees, want Hy sal ons sëen met wysheid sodat ons onsself sal toewy om te fokus op die liefde, sowel as die ander element wat uit die liefde voortvloei.’

My hart is verheug, en ek is verlig dat ek gesëen is met ‘n ‘geloofs-held’, en nie ‘n ‘hollywood – held’ nie.

  • Blogger - Antoinette Greeff

    Antoinette Greeff is woon in die Vaaldriehoek waar sy voltyds vrou (vir een :)) en ma (vir twee) pragtige woelwaters is. In haar ‘vrye tyd’ is sy 'n menslike hulpbron beampte vir 'n staalmaatskappy. Antoinette glo daarin om elke dag aan te vat soos hy kom, want met twee kleintjies onder 4 het sy nie regtig 'n ander keuse nie. Haar familie is haar passie en sjokolade haar dood.

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.