Moet ek gaan met skurwe hande?

by Blogger - Annabelle Lombard / Mei 09, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 372 mense.

So spot my flymskerp koormaatjie dat sy room nodig het, voor ons 400 Capital Singers  se uitvoering van die ou Halleluja liedjie: Moet ek gaan met leё hande? Sal ek ooit weer  die liedjie reg kan sing en my lag sluk?

Die dieper betekenis van die lied ontgaan my nie.  Wat as my lewe nie eens een siel gebring het om te offer aan Sy troon nie?   

My vroegste bewuswording van sending was as klein dogtertjie by my ouma se boekrak. Sy was ‘n getroue donateur en korrespondent.  Ek was altyd aangegryp deur die verhale van sendelinge en het ‘n heldeverering vir hulle bo-menslike waagmoed, deursettingsvermoë en geloof.  Mense soos Broer Andrew – God se smokkelaar  wat Bybels agter die ystergordyn versprei het.  Dis die mense wat in moderne tye wonderwerke beleef en in primitiewe omstandighede hoop en genesing bring.

Onlangs herinner ‘n vriend my aan een van die ander kosbare boekies wat ek by ouma geërf het, deur Richard Wurmbrand - Vir Christus Gemartel.  Hy vertel  hoe Richard by ‘n Sendingweek op Stellenbosch getuig het van KGB agente wat sy voetsole met ysters gebrand het om die adresse van Christene in Kommunistiese Roemenië te bekom.  Hy het geweier, want dit sou hul dood beteken.  Hy het net oor en oor gesê “Jesus loves you.”  Hy word alleen in ‘n donker gat gegooi en ‘n paar dae later kry hy ‘n medegevangene – dieselfde KGB agent wat hom gebrand het!  Hy erken toe hoe daai sinnetjie by hom gespook het en hoe hy nie anders kon as om Jesus aan te neem nie.  Dis hierdie stories wat geslagte daarna nog inspireer en versterk.

Nog ‘n pragboek het onlangs oor my pad gekom – Die Hart van God saamgestel deur Lisel Joubert en Isabel Murray.  Dis die verhale van meestal  onbekende en vergete vroue in die sending.  Baie van hulle het uit Victoriaans Europa gereis, opleiding in Wellington ontvang en in Afrika ingegaan met Die Evangelie.  Hulle het dikwels jonk gesterf en sommige het nooit eers by hul bestemming aangekom nie.  Kort na hul aankoms in Malawi word die swanger Bessie Vlok siek aan Malaria en haar baba sterf ‘n dag na geboorte.  Op haar sterfbed ‘n paar dae later skryf sy:  “Ek gaan sterf en ek het so weinig gedoen:  ek het nog niks vir die Here gedoen nie.  Haar lewe en getuienis eggo steeds in die toekoms in.

Ek glo ons is almal net instrumente wat in ons swakheid en diensbaarheid gebruik word om die Koninkryk te laat kom. Elke glimlag, elke sagte gebaar, elke liefdesdaad en elke mooi storie wat gedeel word, is ‘n stukkie Koninkryk wat reeds kom.

  • Blogger - Annabelle Lombard

    Ek is 'n ma, eggenoot en liefhebber van mooi goed. My wortels lê in die weskus dorpie Lutzville. Daarna het ek my Bedryfskommunikasiegraad aan die PUK verwerf en met die beste man in die wêreld getrou. Ek het twee seuns en werk deeltyds vir 'n kerk in Pretoria. Ek is 'n borskanker oorlewende, koorsinger, tuinier, toeris en ewige student van die lewe.  Vandaar die naam van my blog: Bella la Vita (die mooi lewe) annabellelombard.wordpress.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.