Mevrou Doeminie skyn daai liggie

by Blogger - René van Zyl / Oct 10, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 154 mense.

Niks inspireer mens mos tot sulke hoogtes as ’n motiveringspreker wat vol energie en drif en passie vir sy werk is nie – of selfs net ’n pompjoggie of ’n selfs ’n tandarts.

Ek het my dogter by so ’n tandarts gehad wat my opgewonde gemaak het, want hy praat so passievol oor sy werk en die nuwe goed wat uitgevind is dat ek skoon liries raak. Ek was ook met haar by ’n fisioterapeut wat haar so inleef in haar werk en elke beweging so opgewonde aanpak, dat ek in vervoering is. en ja, ek het al met so ’n pompjoggie te doen gehad. Ja, ja ek weet almal is nie elke dag ewe opgewonde om te leef of te werk nie, maar hemel, dis lekker om so ’n persoon se energie te beleef en dit laat jou sommer jou eie werk lekkerder doen.

My dogter werk tans in Disney World in Amerika en dis die eerste ding wat hulle geleer word, of jy nou die straatveër, die skottelgoedwasser of die glamorous Disney Prinses op die hoogste vlot is en of jy nou net die ou is wat die perd vooraan die vlot moet lei, elkeen moet doen wat Walt Disney besluit het, lank gelede. Hy het een motto gehad: : “Wat jy ook al doen, doen dit goed. Doen dit so goed dat wanneer mense jou dit sien doen, hulle terug wil kom om jou weer te sien en hulle sal ook ander wil saambring om jou te sien werk.” Of jy nou die straatveër is en of jy die mooiste Disney Prinses voorstel.

Ek dink dis wat Jesus bedoel het met heiligmaking. Dis om die taak wat jy gekry het, met passie en geesdrif te doen, sodat ander jou positiwiteit optel en net soos jy wil wees. Ek bedoel, Jesus het sy taak so kom uitvoer en ons almal wil juis dit hê wat Hy het. Skyn daardie liggie van jou en ander sal dit wil hê wat jy het: Jesus.

  • Blogger - René van Zyl

    René van Zyl is 'n oud-joernalis, skrywer (boeke, teater), blogger en kinderwerker. Sy skryf hoofsaaklik lekker interaktiewe kinderkerk materiaal, wat die Bybel van voor tot agter met geheueptrente of speletjies deurwerk. René is 'n regterbrein, buite-die-boks denker; getroud met 'n net so buite-die-boks predikant, Anton. Hulle het twee dogters, Michelle (21) en Chantal (18) en ’n breingestremde seun, Sean-Jacques (23). Hulle lang pad van trane, lag en genade het haar geleer om die lewe en sy reëls nie so ernstig op te neem nie.
    www.renevanzyl.blogspot.com
    www.bybelboekwurm.blogspot.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.