Massering - paspoort tot ware ontspanning

by Blogger - Marlene Boonzaaier / Dec 15, 2016 / 0 Kommentaar / Gelees deur 411 mense.

Plaas jouself in die volgende situasie:  rustige musiek speel op die agtergrond, die ligte van die kamer is gedemp en word vervang deur kerslig, die geur van rose hang in die lug... Klink idillies nê? 

Dit is presies die atmosfeer wat jou moet begroet as jy vir ʼn massering gaan. Nog voordat die terapeut ʼn vinger op jou gele het, moet jy al kan voel hoe al jou stres en angstigheid verdwyn en jy vergeet van al die pligte wat op jou skouers rus as Ma, Vrou en Beroepsvrou.

Massering is nie vandag meer net ʼn luukse wat net by ʼn spa aangebied word nie, enige goeie skoonheidsalon behoort vele opsies te bied wat elkeen se sak kan pas. Kom ons kyk na die verskillende soorte masserings wat vandag bekend en gewild is:

AROMATERAPIE MASSERING:

Hierdie massering behels die gebruik van aromatiese olies. Jou terapeut moet vooraf met jou ʼn deeglike konsultasie doen om seker te maak jy is nie allergies vir enige van die olies nie en dat jy ook nie swanger is of borsvoed nie.  Sekere olies is veilig gedurende swangerskap maar vir veiligheid wees eerlik met jou terapeut.  Aromatiese olies kan ook gevaarlik wees as dit nie reg gebruik word nie. Die tegniek van Aromaterapie massering is dieselfde as Sweedse massering.

SWEEDSE MASSERING:

Hierdie tipe massering is die bekendste en algemene vorm van massering. Dit kan met enige olie gedoen word. Daar is ook verskeie voordele aan hierdie massering: dit verlig spanning, kan beseerde spiere behandel, verbeter bloed sirkulasie en help om kroniese pyn te verlig.  Weereens moet die terapeut ʼn volledige konsultasie uitvoer voor sy begin om te weet of daar enige mediese rede is wat die massering kan beïnvloed.

WARM KLIP MASSERING / HOT STONE MASSAGE:

Die massering gebruik ook dieselfde tegnieke as Sweedse massering, daar word net warm klippe ingespan om die spiere meer ontspanne te maak.

As jy nie kans sien vir ʼn vollyf massering nie, is daar nog baie ander opsies wat jy kan oorweeg.

Gaan probeer gerus ʼn skouer en rug massering of selfs ʼn voet en hand massering. Dit kan ook wondere verrig en al die spanning soos mis op die horison laat verdwyn.

Buiten spanning is daar ook vele ander kondisies waarmee massering verligting kan bring. Die help vir angstigheid, spysverterings probleme, fibriomialgie, slaaploosheid, sport beserings en nog vele meer.

So daar het julle dit dames, ons staan amper aan die einde van die jaar en als word mos eers erger voor die beter word. Voordat dit vir jou voel asof jy net nie meer die pas kan volhou nie, gaan bederf  jouself gerus met ‘n massering,  kort of lank, vollyf of net die hande en voete, elke bietjie kan sy deel bring om jou weer te laat kans sien vir die laaste myl of twee voor die luilekker Desember vakansie.

LYK MOOI – VOEL MOOI GROETE TOT VOLGENDE KEER

  • Blogger - Marlene Boonzaaier

    Marlene Boonzaaier het haar eie skoonheidsalon in Sasolburg. Na skool het sy 'n skoonheidskursus gevolg by die Harrieth Jane Skoonheidsakademie in Potchefstroom. Daarna het sy onder andere vir Steiner Transocean aan boord van die Veendam gewerk, waar  sy waardevolle ondervinding opgedoen in skoonheid sowel as alle spabehandelings en massering.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.