Mammie, ek soek jou oral!

by Blogger - Lynette Beer / Mei 15, 2017 / 1 Kommentaar / Gelees deur 742 mense.

My ma was Aletta Magdalena Swanepoel en later na haar troue, Aletta Magdalena Beer.

Sy het groot geword in Riebeeckstad en Grahamstad. Later jare het sy in Port Elizabeth begin werk waar sy my pa ontmoet het en getroud is.  Hy het haar oorreed om op te hou werk - nie dat hulle dit kon bekostig nie.  Volgens my was dit ‘n geweldige fout, want dit het haar totaal weerloos en afhanklik gelaat. Dit kan tog vir geen vrou se selfbeeld en eiewaarde goed wees om in die oë van haar man te kyk vir elke sent nie - my beskeie mening.

My ou moeder het ‘n sagte gees gehad. Sy was ‘n liefdevolle mens wat vrede nagejaag het.  Sy het ongetwyfeld ‘n groen temperament gehad. Haar liefde vir die Here was duidelik sigbaar en sy het ons doelbewus met die waarheid van die Woord grootgemaak. Daar was elke oggend ‘n basiese drill voor skool. Dit het begin met die antwoord van somme (tafels), Bybellees en dan bid. Daar was ook die gebruiklike rympie: “Onthou julle moet niks vat wat nie aan julle behoort nie, al is dit so klein soos ‘n koppiespeld, Liewe Jesus sien alles raak!” Tot vandag toe kan ek niks vat wat nie aan my behoort nie. Dankie Mammie!

Ek mis haar vandag in die besonder, want môre is Moedersdag! Ek besef dat ‘n wedergebore ma, wat lief vir die Here is, vir haar man, kinders, familie, vriende en land bid, meer werd is as honderd predikante.

My liefde vir die Here het ek by my ma geleer. Die beloftes van die Here het ek daagliks uit haar mond gehoor. Sy het vergifnis geleef. Nederigheid was deel van haar mondering. Regverdigheid was duidelik te sien in die manier waarop sy ons vier kinders grootgemaak het. Haar liefde vir my pa was vir my soms onbegryplik.

Vandag salueer ek jou Mammie!

  • Blogger - Lynette Beer

    Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen.
    Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid”
    Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW).
    Besoek haar webwerf: www.seedsofinspiration.co.za.

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.