Maak dit lekker om totsiens te sê

by Blogger - Dorita Janse van Rensburg / Dec 21, 2016 / 0 Kommentaar / Gelees deur 308 mense.

In ons eie omstandighede het daar die afgelope jaar veranderinge gekom. Met elke verandering is daar ook nuwe aanpassings wat noodgedwonge gedoen moet word.

Hartjesveld is ver van ons geliefdes af en juis daarom verlaat ek gereeld die stof en hitte vir doktersafsprake, teetuin kuiers saam met vriendinne en giggeltye in die kamers van my kleinkinders.

Familie vra " Hoe doen julle dit?" Soms weet ek self nie, maar wat ek wel weet, is dat al verlang ek na my man en huis sê die liefde altyd: "Ek wens vir jou genoeg!"

Ons maak dit vir mekaar lekker om totsiens te sê, omdat dit so lekker is om terug te kom. Voor ek vertrek kreun die yskas van al sy gunstelinge. Ek skryf skelm briefies in sy dagboek en die trane rol wanneer daar gegroet word.

Ons ken die waarde daarvan om binne 'n huwelik jou eie identiteit te hê, jy kan nie net jou lewe om 'n ander mens bou nie. Jy moet geluk in jouself vind om te kan belê in 'n gesonde huwelik. Gebruik die alleentyd om asem te haal - dink na- orden gedagtes en ontdek persoonlike belangstellings. Maak tyd vir jouself, maar moet nooit die waarde van tyd saam onderskat nie.

Ons het ry gewoontes en ek hou daarby. Winter of somer, saans laat of rooidag, daar word roomys geëet by die vulstasie net buite Polokwane. Met die terugkom slag by Delicious in Alldays koop ek ʼn lekker roosterbroodjie en ʼn plantjie om in ons tuin te plant.

Wanneer ek op die Ponddrif pad regs draai op die Venetia myn pad, sms ek kort en kragtig " myn". Dis ʼn skimp waarop ek weet hy gaan reageer. My lief gaan die sewe hekke tussen my en hom kom oop maak.

Ek stem saam met Chris Chameleon wanneer hy skryf, " My hart is selde meer tuis as by die gerusstellende geur van koeimis"

  • Blogger - Dorita Janse van Rensburg

    Dorita Janse van Rensburg is vrou, dogter, ma, ouma en vriendin van vele. Sy woon op ’n plaas in die verre noorde van Limpopo. Sy sê: “Ek hunker elke dag na almal wat ver is, en moes noodgedwonge ander maniere aanleer om deel te bly van almal vir wie ek omgee. My liefde vir Die Woord en woorde hou my staande. Na drie jaar pas ek steeds aan en groei daagliks. Die plaaslewe bied egter ander bekorings en uitdagings.”

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA