Ma’s wat bid

by Blogger - Marida Steurer / Oct 13, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 132 mense.

Ek het 'n Bybelstudie vriendin wat onlangs 'n armband verloor waaroor sy baie sentimenteel was.

Sy vertel op Facebook hoedat sy moedeloos gesoek was en hoedat sy dit uiteindelik vir die Here gegee het met die woorde “either reveal it to me or help me let it go”.  Om ʼn lang en interessante storie kort te maak, het sy haar armband ʼn week later sommer so in die gras, voor die gym opgetel.  Sy gee al die eer vir die Here en dit is baie duidelik dat sy Hom beter leer ken en nog liewer leer kry het in wat met haar gebeur het.

Ek is uiteraard saam bly en verwonderd oor die hele storie, maar iets anders in haar verhaal het my ook op ʼn besondere manier aangespreek.  Sy vertel hoedat sy baie moedeloos vir haar ma ʼn boodskap gestuur het en hoedat haar ma saam met haar gebid het.  Ek kon sien hoeveel dit vir haar beteken om die saak met haar ma te kon bespreek en dat haar ma saam help dra aan haar las.

Wat ʼn seën is dit om ʼn ma te hê wat ook die Here ken en wat ons in gebed dra (selfs in tye wat ons nie eers daarvan weet nie).  Ek onthou hoedat ek as kind met enige iets na my ma toe kon gaan.  Ek onthou hoedat sy deur die jare saam met my gebid het oor enige iets van nagmerries tot verhoudings.  Wanneer ek op universiteit die muntbussie se gehoorstuk terug gesit het, was hy soms sopnat gehuil, maar my hart was ligter, want my ma het belowe om nou vir my te gaan bid terwyl ek verder gaan leer vir môre se eksamen.  Ek onthou ʼn keer wat my ma my binne in my klerekas opgespoor het, waar ek sit en huil oor ʼn verhouding wat nie uitgewerk het nie.  Haar arms en haar gebede was summier rondom my.  Later jare, met duisende km’s tussen Suid-Afrika en Europa, het sy partykeer sommer oor die telefoon saam met my gebid.

Noudat ek groter is, bid ek vir haar ook.  Soms wanneer sy dit nie weet nie en soms ook sommer oor die telefoon omdat die Vrystaat en Gauteng net té ver is vir ʼn vinnige koffie drink.

Ek bid ook nie net vir haar nie.  Ek het vandag ook drie juffertjies in my huis wat baie gebed nodig het.  Ek bid voor hulle, saam met hulle en vir hulle wanneer hulle nie weet nie.  Ons bid ook middel in die nag wanneer hulle nagmerries kry en oor maatjies en oor eksamens.  Ek bid soms baie moedeloos oor koors wat nie wil breek nie en harte wat baie seer is oor dinge waaraan ek niks kan doen nie.  In daardie tye voel ek nie soos die gebedswarrior wat ek altyd gedink het ʼn ma moet wees nie.  Dan voel ek soos ʼn hulpelose wurm, wat self ook deur ʼn skoen plat getrap kan word, maar wat smeek dat haar baba wurms veilig sal wees.  Dit is dan wat ek opnuut ook weer iets van my eie ma se hart snap.

Die Here seën ons deur ons ma’s en deur hulle gebede.  Dankie vir elke ma wat bid.  Jesus tree ook vir ons in by die Vader.  Ma’s wat bid, wys vir ons op ʼn menslike manier iets van Jesus se liefde hier op aarde.

  • Blogger - Marida Steurer

    Marida is 'n bestuurskonsultant en ma van 3 laerskool juffers. Dit sorg vir 'n wipplank ryery tussen skooltake, buitemuurs en pre-tiener uitdagings teenoor korporatiewe opleidingsplanne, begrotings en sperdatums. Sy is baie lief vir die Here en glo dat Hy relevant is in elke faset van ons lewe. Sy is getroud met Juppi en saam hou hulle van rond reis en bordspeletjies. Volg Marida se Koffie met die Koning blad op Facebook of http://www.maridasteurer.wordpress.com/

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.