Legkaarte

by Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen / Jul 13, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 360 mense.

Fudge, my Skotse terrier vreet mier-gif. Die veearts klink bekommerd. Code red! Code red!

Ek druk my hond in my man se behendige hande met die presisie van ‘n militêre bevelvoerder. Go! Go! Go! Hy ry solank vooruit, terwyl ek die huis toegesluit kry en Coco, ons ander terrier se veiligheid verseker.

Ons het albei op die patio gesit en werk toe die onaangename petalje afspeel. Terwyl my man deur die middag verkeer vleg, maak ek die glaspanele van ons patio toe teen die spoed van wit lig. Coco sit in die veiligheid van die huis. Ek draai vervaard om en besef ek het sopas myself uit die huis toegesluit. Coco, verstaan die dringendheid van die situasie en blaf onophoudelik. My moed sak in my skoene. Ek kan nie in die huis kom nie en Coco het in al sy ‘wees-‘n-beter-hond’-training nie geleer hoe om ‘n skuifdeur oop te sluit van die binnekant af nie. My selfoon lê op die eetkamer tafel. Ek het geen konneksie met die buite-wêreld nie.

Ek krap vervaard my regter-pols. In my poging om Fudge se bek gewas te kry, het van die gif op my vel beland en veroorsaak nou ‘n irritasie van epidermiese proporsies. Genade, as my pols so juk, dink net hoe voel sy bek! Met ‘n geslote deur tussen my en Coco lê ons albei nou op ons pote en bid. My man gaan wonder waar ek is en hoekom ek nie my selfoon optel nie. Vervaard e-pos ek die ganse internet in ‘n poging om my man te laat weet wat die stand van sake is.

Na wat voel soos ‘n ewigheid stap my man en Fudge dood-luiters by die huis in. Fudge is vreeslik ingenome met sy mid-week uitstappie en die hele situasie is nou onder beheer. My man glimlag breed toe hy my uit my tronk bevry. Die aaklige penarie is verby. Ek dink hoe gereeld die wêreld ons in verskillende rigtings stuur. Ons is nie altyd in mekaar se teenwoordigheid nie. Somtyds staan ons aan verskillende kante van ‘n deur. Ek is so bly om deel van ‘n span te wees. Twee is beter as een. Saam is ons beter! Soos in die woorde van ‘n oer-oue TV program, A-team: ‘I love it when a plan comes together’. Te midde van normale uitdagings beleef paartjies die genade van God om al die uiteenlopende stukke van hul legkaart bymekaar te bring.

  • Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen

    Marthinus en Bianca Steffen is vir die laaste sestien jaar getroud en steeds opgewonde daaroor. Hulle sal onomwonde erken dat hul nie perfek is nie, maar dat hul beter saam is, as apart. Hulle hou van laat-aand geselsies, koffie, lees, draf, saam reis en nuwe plekkies ontdek.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.