Leef is meer as om net asem te haal

by Blogger - Ansa Van Geest / Oct 10, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 197 mense.

My verjaarsdag het gekom en gegaan...so ook die kort skoolvakansie. Daar was goeie oomblikke.

Die fluisterstemmetjies van opgewonde kinders wat mamma in die bed verras met koffie, ontbyt en handgemaakte persentjies. Daar was kampvure en sokkerwedstryde waar ma en pa moes saamspeel. Roeisessies op die dam met moddervoete en nat boude. Koestertyd, onthou tye. Leef in die oomblik tye.

Gepas dat ek dan ook op daardie stadium die boek lees: “When breath becomes air” deur Paul Kalanithi. Ek tob lank oor die titel. Om asem te haal. Om nou te lewe terwyl jy leef. Dis skrywer is n suksesvolle jong man wat die akademiese leer geklim het met n groot toekoms voor hom.

Dan die groot K... Hy kom tot die besef dat wysheid in boeke nie gemeet kan word aan hoe jy lewe ervaar nie. “We are never so wise as when we live in this moment.” Daar is 'n tyd om geleenthede en doelwitte na te jaag, maar daar is ook tye waar jy agteroor moet sit en beleef wat rondom jou gebeur.

Wanneer ek onlangs gekonfronteer word met die bekende teksvers: “Want om te lewe is vir my Christus en om te sterwe is vir my wins”, besef ek later dat dit een ding is om seker te wees van die dood en dat jy 'n kind van God is , maar dat dit 'n ander uitdaging is om so te kan lewe dat jy kan getuig: My lewe is Christus...

Wanneer my dogter met hangskouers die nuwe kwartaal wil binnestap wil  ek haar keer en aanmoedig.

Waarom nou reeds die toetse en eksamens op jou skouers laai?

Kyk op na die berge, dis daar waar jou hulp vandaan kom.

Ek besef in daardie oomblik dat dit ook my antwoord is. Om daagliks in Sy afhanklikheid te leef...slegs dan kan jou lewe “Christus” word.

Ons lewe slegs een keer. Kommer voeg nie 'n uur by ons lewe by nie. Soms moet ons wakker wees en geleenthede aangryp maar ander kere moet ons stil word en net in die oomblik leef.

Om te lewe is vir my Christus... Breath becomes air.

  • Blogger - Ansa Van Geest

    Ek is 'n voltydse mamma van vier kinders (13,11 en 'n tweeling van 7), en 'n deeltydse dokter. My gawe is om die Here te dien met sang en musiek en om die mooi in dinge raak te sien. Ek hou van stories van hoop en dit is lekker om my gedagtes in woorde om te skakel. Ek kry my energie van hardloop en van die berge en die see rondom my in Somerset-Wes.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.