Lê ons stene of bou ons 'n katedraal?

by Blogger - Marida Steurer / Aug 03, 2017 / 1 Kommentaar / Gelees deur 291 mense.

St Paul’s Katedraal (die een waar Prins Charles en Lady Diana destyds getroud is) het jare vantevore, in 1666, tot op die grond afgebrand in die groot Londense brand.

Dit moes herbou word en Sir Christopher Wren het die taak gekry om die nuwe gebou te ontwerp en die bouprojek te oorsien.  Die verhaal word vertel dat hy op ʼn dag tussen die werkers rondgeloop het en by drie verskillende messelaars gestop het om na hulle werk te kyk.  By die eerste man het hy stil gestaan en gekyk met hoeveel moeite die man besig was om te werk.  Sir Christopher vra hom toe waarmee hy besig is en die man antwoord half geïrriteerd:  “Ek lê stene!”.  Sir Christopher het verder gestap en by ʼn tweede messelaar gekom vir wie hy ook gevra het waarmee hy besig was.  Die tweede man het geantwoord: “Ek bou ʼn muur”.  ʼn Entjie verder het ʼn derde messelaar flink gewerskaf.  Sir Christopher het oorgestap en hom ook gevra waarmee hy besig is.  Die man het sy vuil hande aan sy stowwerige klere afgevee en opgewonde geantwoord:  ”Ek help om ʼn wonderlike katedraal te bou tot eer van die Here”.

Al drie messelaars was ewe stowwerig, al drie het ewe veel werk gehad, maar die groot verskil het in hulle ingesteldheid gelê.

Soms maak die uitdagings van die lewe my baie bewus van die bakstene en die sement waarmee ek besig is.    Die wêreld voel dan stowwerig en vuil en ek is oorbewus van hoe skurf my hande voel en hoedat die lewe die een nael na die ander breek.  In hierdie tye raak ek ook baie bewus van die feit dat ek myself eerder as ʼn paleis prinses beskou wat dit sou geniet om bedien en pamperlang te word.

Dit is wanneer die eise van my werk, die kinders se programme, gesinsverantwoordelikhede en al die ander dinge wat die lewe na my toe gooi, ophoop en skielik soos ʼn enorme berg voel.  Ek verloor dan die groter prentjie.  In hierdie tye sien ek net die bakstene raak waarmee ek besig is.  In die proses verloor ek die vreugde van die Argitek se plan, die katedraal waarmee ek eintlik besig is.

ʼn Wyse tannie, wat reeds die glorie van die katedraal beleef wat sy op aarde gebou het en die Groot Argitek intussen self ontmoet het, het eendag vir my gevra hoedat dit met my gaan.  Met drie juffers onder die ouderdom van drie en met ‘n groeiende konsultasie besigheid van die huis af was dinge amper doller as kopaf!  Ek het egter mooi verduidelik hoedat ek besig is om al die balle in die lug te hou.  Lang ure, min slaap.  My stelsel was ʼn ge-oliede ratwerk van reëlings en organisasie.  Ek het heimlik trots gevoel toe ek klaar verduidelik het hoedat ek elke baksteen op sy plek bou en oor hoe skurf my hande is.  Die tannie het my uitgeluister en met soveel deernis geantwoord: “Dit klink alles wonderlik, jy moet net onthou om dit tussendeur te geniet ook nooi”.

Haar woorde het my vir ʼn oomblik my troffel laat neerlê en weer na die Groot Argitek se plan laat kyk.  Ek het nie ʼn keuse gehad om my omstandighede te kon verander nie, maar ek het wel ʼn keuse gehad oor my houding jeens my omstandighede.  Net daar het ek besluit om baie bewustelik te fokus om die grootsheid van dit waarmee ek elke dag besig is, raak te sien.  Ek het besluit om nie op die bakstene te fokus nie, maar eerder die Katedraal raak te sien wat ek die voorreg het om aan te mag bou, hetsy by die werk of by die huis.

Ek het my voorgeneem om nooit ooit ʼn fase van my kinders se lewens om te wens nie.  Wat ʼn voorreg om (selfs deur “Terrible Two’s” en “Potty Training”) ‘n stukkie van die Katedraal in hulle lewens te mag inbou!  Selfs met moeilike kliënte of frustrerende burokratiese stelsels het ek ook ʼn verantwoordelikheid om die bakstene met so ʼn ingesteldheid in te bou dat die groot Argitek nog steeds die eer sal kry vir ‘n wonderlike Katedraal wat sigbaar word uit die bouwerk.

Ons het nodig om te onthou dat om skottelgoed te was, om kaste reg te pak of kinders met huiswerk te help, alles heilige bakstene is wat volgens ʼn groter plan deel vorm van ʼn grootse Katedraal ter ere van die Here.  Op dieselfde manier is verslae opstel, onderhandelings met vakbonde en vervelige administrasie ook deel van die bou van ʼn Katedraal tot eer van die Here.  Die verskil in ingesteldheid om bakstene te lê of om ʼn Katedraal te bou, maak ʼn groot verskil in die manier waarop ons ons dagtaak aanpak. Kom ons bekyk weer ʼn slag die Argitek se bouplanne en hoedat ons met die bouwerk besig moet wees.

(Ek is tans besig om ʼn nuwe vaardigheid as messelaar aan te leer.  Ons begin nou aan die tiener vleuel van die Katedraal bou...)

  • Blogger - Marida Steurer

    Marida is 'n bestuurskonsultant en ma van 3 laerskool juffers. Dit sorg vir 'n wipplank ryery tussen skooltake, buitemuurs en pre-tiener uitdagings teenoor korporatiewe opleidingsplanne, begrotings en sperdatums. Sy is baie lief vir die Here en glo dat Hy relevant is in elke faset van ons lewe. Sy is getroud met Juppi en saam hou hulle van rond reis en bordspeletjies. Volg Marida se Koffie met die Koning blad op Facebook of http://www.maridasteurer.wordpress.com/

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.