Koester jou geliefdes

by Blogger - Louise Viljoen / Oct 11, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 155 mense.

Ons lewe by mekaar verby. Dit voel soms asof mens jou lewe op ’n drafstap lei. Tyd vir omkyk of stilstaan is daar nie. Dis net altyd vorentoe, vorentoe, vorentoe.

Die rekeninge moet aan die einde van die maand betaal word. Die kinders moet by hulle onderskeie naskoolse aktiwiteite uitkom. Die voorbereidings vir die bestuursvergadering moet getref word. Die spertyd vir die inhandiging van ’n belangrike projek is op hande. Die huis moet skoongemaak word. Die gras moet gesny word. Daar moet inkopies gedoen word, want die yskas en koskaste is leeg. Só hol ons voort soos hamsters op ’n wiel. Tyd vir stilstaan is daar nie. Gesinslede mompelgroet mekaar soggens en saans so in die verbyskarrel. Familielede en vriende is wel ’n whatsapp ver, maar mens stuur sommer blitsvinnig net ’n prentjie van ’n oulike katjie aan. Tyd vir gesels is daar nie. En so gaan die lewe by ons verby.

Op ’n dag knip jy jou oë en sien die grys langs jou wederhelf se slape en die diep plooie in die hoeke van sy oë. Jy wonder wanneer het hy so oud geword. Jou kind wat nou die dag as haasbekkie graad een toe gegaan het, is skielik ’n forsgeboude jongman wat planne maak om ná die matriekeksamen alleen oorsee te gaan. Die jare tussenin is ’n warboel indrukke en vlietende herinneringe wat deur jou brein spoel. Jy probeer hier en daar die pause-knoppie druk in ’n poging om te onthou, maar jy het alles op ’n drafstap deur die kamera se lens beleef om mylpale af te merk soos dit ’n goeie ma betaam. Die foto’s van peperduur verjaarsdagpartytjies is slegs trofeë – jy’t nooit bewustelik saamgedoen aan al die feestelikhede nie, want jy was die skim-agter-die-skerms wat seker gemaak het dat alles seepglad verloop. Vandag huil jy in jou hande, want jou kind en jou man is halfbekende vreemdelinge wat die huis met jou deel. Waar was jý al die jare?

Hou op om langer tyd te mors op berou. Dit bring jou niks behalwe negatiewe emosies in die sak nie. Al trek jy ook al die hare uit jou kop uit, gaan dit niks verander aan die feit dat jy kosbare saamweestye verloor het nie. Dis verby. Die wind het reeds jou voetspore toegewaai. Kyk eerder na die positiewe. Dis nooit te laat om die heel belangrikste persone in jou lewe – jou geliefdes – te begin koester nie. Jy kan van vandag af nuwe herinneringe versamel. Jy kan jou arms om jou seunskind se lyf slaan en jy kan hom in die oë kyk en vir hom sê dat jy hom liefhet. Jy kan by jou man se voete gaan sit en jou kop op sy knie laat rus. Jy kan hulle sien en hoor en voel en ervaar met al jou sintuie. Sien uit na die avontuur om hulle menswees opnuut te ontdek. Sien uit na die geleenthede wat jy gaan skep om hulle jou hart te wys. Vergewe jouself vir dit wat verlore gegaan het en gryp reikhalsend en gulsig met albei hande na die kosbare skat wat wel joune kan wees. Moenie langer uitstel nie. Die lewe is kort.

  • Blogger - Louise Viljoen

    Louise Viljoen is 'n skrywer en taalversorger wat op ’n vryskutbasis van die huis af werk. Sy redigeer, proeflees en vertaal manuskripte en geniet dit vreeslik baie om voornemende skrywers te motiveer om hulle skryfdroom uit te leef. Louise lees graag en haar boekresensies verskyn gereeld in die media. Haar resensies word ook Saterdae om 11:30 op Radio Kaapse Kansel uitgesaai. Daar het al meer as 300 artikels oor verskillende onderwerpe uit haar pen verskyn, asook twee boeke, 'n geestelike roman en ’n wetenskapfiksie verhaal. Louise het onlangs ’n Engelse draaiboek voltooi en hou tans albei duime vas dat ’n vervaardiger dit sal wil verfilm.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.