Kersfees as kind

by Blogger - Dorita Janse van Rensburg / Dec 23, 2016 / 0 Kommentaar / Gelees deur 669 mense.

Die reuk van Kersfees is die reuk van my kinderjare. Al die lekkerbek-geure, die warmte en opgewondenheid wat so eie aan Kersfees is, het weke voor Kersdag al in my ouma Lenie se huis gehang. Almal was welkom.

In daardie selfde huis het ek verlief geraak op ʼn spens. Vir ons kinders was dit verbode terrein maar Ouma het gereeld vir my en my sus, wit om die mond, gevang terwyl ons in die melkpoeier weglê.

Blikke koekies en wit emmers vol gemmerbier het op die koue sementvloer gestaan. Ek het 'n grillerigheid gehad vir die vet rosyne wat soos dikgedrinkte bosluise bo-op gedryf het.

Daar was tuisgebakte brode. En natuurlik my gunsteling... 'n groot fles vol heel vye wat mens so aan die stingel kon uithaal en vol stroop in jou mond kon druk. Dan ook die sloop vol perske-en-vyerolle.

Die dag voor Kersfees is daar melkterte gebak. " My nooi is in 'n nartjie. My ouma is in kaneel" het Ouma altyd trots gesing wanneer sy die kaneel strooi.

Geure roep herinneringe op, selfs herinneringe wat soms ver weggebêre is. My Pa het nie geglo in kersbome en kersgeskenke nie maar hy het altyd gesê: "Elkeen kan Kersfees op sy manier vier, ons moenie oordeel nie". Op Oukersdag het my Ma en ons vier kinders altyd 'n geskenk gekry maar dit was kwansuis dan omdat ons sulke mooi rapporte gekry het.

Ek onthou hoe oupa Willem die groot vet waatlemoen geklop het om te hoor of dit al ryp genoeg is. Ons kinders het dan reeds reggestaan vir 'n skyf en gekyk wie kon die pitte die verste spoeg. Ook die grootmense se tergende woorde dat as ons die pitte gaan insluk, daar ʼn waatlemoen in ons maag gaan groei.

Ons is geleer dat as jy tevrede is met wat jy het, is jy skatryk. Ek mis my mense en ek weet my Pa glimlag elke jaar wanneer hy ons boom en geskenkies sien.

  • Blogger - Dorita Janse van Rensburg

    Dorita Janse van Rensburg is vrou, dogter, ma, ouma en vriendin van vele. Sy woon op ’n plaas in die verre noorde van Limpopo. Sy sê: “Ek hunker elke dag na almal wat ver is, en moes noodgedwonge ander maniere aanleer om deel te bly van almal vir wie ek omgee. My liefde vir Die Woord en woorde hou my staande. Na drie jaar pas ek steeds aan en groei daagliks. Die plaaslewe bied egter ander bekorings en uitdagings.”

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.