Ken jy iemand met Super Powers?

by Blogger - Marida Steurer / Sep 13, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 138 mense.

Terwyl ons so saam-saam staan en kos maak, vra my 10 jarige ewe nonchalant of ek weet dat sy 'n Super Power het.

Ek is skielik baie nuuskierig, want ek is nie bewus van enige iemand in ons familie met Super Powers nie.

Daar was ʼn tyd in my lewe wat ek onder die indruk was dat my pa Super Powers gehad het, omdat hy munte agter my ore kon laat verskyn.  Alhoewel hy vir lank gevly was deur my bewondering, het hy my later reg gehelp met ʼn “Geld groei nie op ons rug nie” en moes ek maar genoeg neem met die feit dat ek niemand ken met Super Powers nie.

“Nou toe,” vra ek geïnteresseerd, “watse Super Power het jy?”  Sy sit die lepel neer waarmee sy die witsous roer, beweeg haar hand voor haar oë van links na regs en sê dramaties:  “Ek... kan die verlede sien!”

As ma van ʼn kind met Super Powers vra ek toe geïnteresseerd uit hoe dit haar spesifiek help.  Sy vertel hoedat sy kan sien wat gister gebeur het en eergister en selfs langer terug.  Klein snip!  Ek vreet haar sommer op!  “Dit maak my slimmer!”, sê sy.  “Ek kan nou leer uit dinge wat klaar gebeur het.  Ek hoef nie dieselfde foute te maak nie en ek kan volgende keer slimmer wees.”

Wat?!  Ons het net Vrydag haar 10e verjaarsdagpartytjie gehou en nou staan sy vir my en lewenswyshede uitdeel om die kospotte!

“En weet Mamma” gaan sy aan, “enige iemand kan eintlik hierdie Super Power hê.  ‘n Mens moet net hard oefen daaraan” en daarmee verloor sy belangstelling in die onderwerp en begin weer die witsous roer.

Haai en net daar besef ek, nie net is ek die ma van ʼn kind met Super Powers nie, ek kan self ook Super Powers hê!  Ek moet net hard oefen daaraan...

  • Blogger - Marida Steurer

    Marida is 'n bestuurskonsultant en ma van 3 laerskool juffers. Dit sorg vir 'n wipplank ryery tussen skooltake, buitemuurs en pre-tiener uitdagings teenoor korporatiewe opleidingsplanne, begrotings en sperdatums. Sy is baie lief vir die Here en glo dat Hy relevant is in elke faset van ons lewe. Sy is getroud met Juppi en saam hou hulle van rond reis en bordspeletjies. Volg Marida se Koffie met die Koning blad op Facebook of http://www.maridasteurer.wordpress.com/

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.