Jy bereid om alles te gee?

by Blogger - Gerjo Ben van der Merwe / Oct 10, 2017 / 1 Kommentaar / Gelees deur 505 mense.

Bonhoeffer sê: When God calls you, he calls you to come and die. Eina! Wanneer God jou roep, roep Hy jou om te kom sterf. Duidelik nie vir sissies nie, nè!

Die prys is hoog. Vir baie van ons dalk net effe te hoog. Soos ’n herder wat sy skape deur ’n bos moet lei. Die kos en die oorlewing lê aan die ander kant – ons moet daar deur. Tog, in die bos is daar gevare. Daar is leeus en tiere wat erg honger is. En ja, die realiteit is dat daar ’n skaap of twee is wat dit dalk nie gaan maak nie.

Sal jy saam met My deur die bos stap?

Jesus se opdrag: Stap na die mense en groet hulle vriendelik. As hulle vriendelik teruggroet, deel die evangelie met hulle. Vertel hulle van God se nuwe wêreld. Doen dinge wat die mense se lewens verander. Bring vrede in onvrede. Bring vreugde in onvreugde. Laat hulle God se teenwoordigheid ervaar. Hoor mooi! Laat hulle God se teenwoordigheid ervaar.

Ervaar mense God se teenwoordigheid wanneer jy verby hulle loop?

En wat as die mense nie wil hoor nie? Jesus sê reguit: Vee die stof af en maak jou skoene skoon. Elke boontjie kry sy loontjie een of ander tyd. En God is die Een wat hulle boontjie self vir hulle sal oorhandig. Ek wil nie in daardie ry staan nie. Vir seker nie!

Elke keer as ons maag draai voor ons die bos in stap, moet ons net gaan, want God het geroep. Ons kan nie anders nie.

  • Blogger - Gerjo Ben van der Merwe

    Gerjo Ben van der Merwe vertel dat hy ‘n jaar of wat langer op Stellenbosch was, omdat swot nie sy beste vak was nie. ‘n Roeping vir Teologie - dié het hy gehad, maar geen roeping vir predikant-word nie. Hy was daarom eers 'n boer en besigheidsman, maar nou is hy 'n teerstraatpredikant waar hy God se Woord in vandag se woorde bring. Hy en sy vrou, Renata, staan aan die stuur van www.kruispad.com. Sketse by blogs: frans@vespagetti.co.za

kommentaar (1)

  • Wolf Cilliers (kommentaar)

    Dankie vir hierdie nodige gedagtes in jou skrywe Gerjo - dog baie ongemaklik ook.
    Moeilike tye kan dalk nader wees as wat ons besef. Net gister gesels ek met 'n vriendin in Stellenbosch - 'n ouer dame en getroue liefdevolle christin met 'n hart vir haar Here en haar naaste.
    Die tannie vertel hoe sy die koue skouer begin kry en vertel is dat sy liefdeloos is as sy wys dat homoseksualiteit verkeerd is en ook nie sulke "huwelike" aanvaar nie. Ek wonder toe net hoe kan mens liefdeloos wees as jy die waarheid spreek. Soos ek dit sien is dit juis weens liefde dat mens die waarheid sal spreek - in die regte gesindheid natuurlik (Efe 4:15).
    En sy is nie 'n aktivis wat daarop uit is om haar siening op mense af te dwing nie - sy lug maar net haar mening volgens die Bybel as homoseksualiteit ter sprake kom.

    Toevallig kom ek toe netnou op 'n artikel, "The End of Comfortable Christianity" deur Bill Muehlenberg af in die verband.
    Daar in die VSA voel christene die hitte al ernstiger as ons. Hy wys ook op die realiteit dat die tyd van draadsittery besig is om vinnig uit te loop. Dus waarsku hy dat christene hulle gereed moet maak vir vervolging.
    Hulle sal uitgestoot word uit die samelewing en in die tronk en op straat, ens. beland.

    Maar as ons na die heersende kulltuurrigting hier kyk sien ons dat dit dinge hier ook daardie pad begin loop.
    Ek skryf nou hierdie dinge nie ligtelik nie - as selfs kerke (soos party kerke oorsee doen) dan hier die groen lig gaan gee vir homoseksualiteit en ek dit nie aanvaar nie sal ekself vinnig op straat sit.

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.