Hoe raak my verswakte moeders my?

by Blogger - Toortsie / Jan 10, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 265 mense.

Soveel keer vra iemand hoekom God nie maar die ouma of oupa kom haal nie, omdat hulle baie oud of sieklik is of Altzheimers het. Soms lê ‘n oumens aan ‘n bed vasgekluister in pyn en lyding.

Ek ken nie die antwoorde nie.

Met my twee ma’s wat nou oud is en glad nie meer vir hulleself kan sorg nie, het God my baie dinge geleer. Om die waarheid te sê, Hy leer my steeds baie. Ek kan net namens myself skryf en elke situasie is anders.

Want sien, ek is nie ‘n versorger nie. Ek weet nie wat om te doen nie.

Met hierdie twee oumas in my lewe moes ek eerstens geduld leer. Empatie. Liefde. Rustigheid. Ek moes leer dat, ten spyte van my oorvol program, ek soms ‘n dag moet inruim om vir hulle te kan koop wat hulle nodig het. Ek mos leer om nuwe planne te maak, want dit situasie verander steeds.  Ek moes leer om dieselfde vraag elke keer liefdevol te beantwoord, sonder om ongeduldig te raak en telkens weer na dieselfde storie te luister.

Ken jy die waarde van rolstoelparkering en ‘n versorgingsoord, sy verpleegsters en ander personeel?

Ek het gesien dat die ouderdom in sy hardheid ook baie genadig kan wees. ‘Vergeet’ kan genadig wees en help dat jy dalk ‘n slegte ervaring vergeet en ‘n goeie onthou. En al kan hulle dalk nie die alledaagse beuselagtigheidjies onthou nie, vergeet hulle nie om vir hulle kinders en kleinkinders te bid nie.

Ek is dankbaar dat God my die geleentheid gun om nog ‘n stukkie pad te stap met my twee oumense, selfs al is hulle in die ouetehuis en ek hopeloos te min aandag aan hulle gee. Ek is dankbaar vir dit wat God my leer, vir die groei wat in my eie lewe plaasvind, ook in ons verhoudings met mekaar.

Nee, God kan hulle nie nou al wegvat nie, ek het nog te veel om te leer!

Toortsie

  • Blogger - Toortsie

    Madelé Burger (Toortsie) is 'n ma, ouma en boervrou. Sy en haar man, Kobus Burger, boer in die Overberg. Madelé is betrokke by die administratiewe kant van hul gemengde boerdery.  Sy het ‘n BComm-graad en HOD aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, sowel as diplomas in Christelike Nood- en Traumaberading en Bybel- en Godsdienskunde aan die Hugenote Bybelinstituut, en ‘n sertifikaat in Vervoerekonomie aan die Universiteit van Johannesburg. Besoek haar blog: toortsie.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA