HOE LYK WARE SKOONHEID VIR JOU?

by Blogger - Marlene Boonzaaier / Jan 10, 2017 / 1 Kommentaar / Gelees deur 484 mense.

Daar is so baie wanpersepsies van skoonheid deesdae. Begin maar net blaai in ‘n mode- of vrouetydskrif en van die eerste bladsy af begroet kleurryke bladsye ons met maer en perfek geklede modelle met perfekte grimering en hare ons. 

Hoe laat dit jou voel?  Laat dit jou lus voel om dadelik die winkels in te vaar en ook sulke uitrustings en grimering te gaan koop of wil jy eerder die tydskrif in die asblik gooi en nog roomys inskep?  Soms besef ons nie dat die meeste van daardie foto’s gedokter word met die hulp van photoshop nie, want  daar is nie ‘n manier dat daardie modelle regtig so goed lyk nie. Die kans is goed dat hul ook maar sukkel met hare wat frizz, puisies wat op die verkeerde tyd op die verkeerde plekke uitslaan en donker kringe onder die oë van te min slaap.  Daardie idee gee ons as normale, gesonde vrouens darem so bietjie meer selfvertroue, nie waar nie?

Die groot vraag is nou...  Hoe lyk ware skoonheid vir jou?

Vir my is dit meer as net die uiterlike.  Jy kan die perfekte lyf en hare en vel hê maar as jou hart en siel bitter en donker is, gaan jy beslis nie mooi lyk nie.  Ware skoonheid kom van binne, want dit wat binne is straal uit na buite. Die oumense het nie verniet gesê:  “Wat die hart van vol is loop die mond van oor”  nie.

 Ware skoonheid is die manier hoe jy met ander praat en dit sluit in karwagte, kassiere en kelners.  Dit is hoe jy reageer as jy daardie Ma in die winkel sien sukkel met ‘n kind wat maar net nie wil luister en die “tantrums” wil los nie.  Dis wat jy doen as jy sien die dame agter jou het net twee items om te betaal terwyl jy ‘n vol trollie het.  Gaan jy haar voorkeur gee of gaan jy haar laat wag sodat jy eerste al jou inkopies kan betaal?

Ware skoonheid  het ook ‘n fyn balans,  tussen die uiterlike en innerlike.  As jy mooi lyk dan is dit maklik om mooi te voel en as jy mooi voel, dan straal dit van binne na buite.

Doen jouself ‘n guns en pak die skaal en die modetydskrifte weg, want jy is mooi.  Kurwes of geen kurwes, jy is mooi.  Blond, brunet of rooikop, jy is mooi.  Gladde of krulhare, jy is mooi.  Dit maak nie saak wat die wêreld daar buite jou wil wysmaak nie,  jy is mooi!

Gaan trek daardie somerrokkie aan, verf jou toonnaels rooi en laat jou lippe blink met lipgloss, want jy is vrou, jy verdien dit en jy is mooi.  Aanvaar jouself en wees lief vir jouself.  Wees gesond  en plaas daardie huppel in jou stap want ongeag wat ander sê –  jy is mooi!

Lyk Mooi – Voel Mooi groete tot volgende keer.

 

 

  • Blogger - Marlene Boonzaaier

    Marlene Boonzaaier het haar eie skoonheidsalon in Sasolburg. Na skool het sy 'n skoonheidskursus gevolg by die Harrieth Jane Skoonheidsakademie in Potchefstroom. Daarna het sy onder andere vir Steiner Transocean aan boord van die Veendam gewerk, waar  sy waardevolle ondervinding opgedoen in skoonheid sowel as alle spabehandelings en massering.

kommentaar (1)

  • Albertus (kommentaar)

    Daar is 'n objektiewe standaard van mooi waaraan almal onbewustelik gemeet word. Jou blog gee valse hoop aan die minder mooies en vettes. Hulle is presies dit wat hulle in die spieël sien, maar kan dit gelukkig verander. Gelukkig, volgens jou blog, sal kerkbywoning ook vir hulle help.

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA