Hande wat praat

by Blogger - Dorita Janse van Rensburg / Apr 11, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 1211 mense.

Hande is nog altyd vir my ‘n teken van hoop-ons vat graag hande met mense wat glo in vandag se wonders, mense wat daar sal wees indien jy struikel, mense wat kan sterk wees wanneer jy swak is.

Vroegoggend stuur my skoonseun met die ken-kuif vir my ‘n foto wat my diepste binneste tref. Met sy sagte gees glo ek hy het geweet dit gaan my gooi. Dis ons kleine Kara se sagte wit handjie veilig bo-op Oupa se hand.

Eens... toe hy jonk was, was sy lang vingers en sterk ongeskonde hande vir my mooi. Daardie hande het ons kinders vasgehou, saam met hulle boomhuise en sandkastele gebou, pleisters geplak en kon met ysters toor.

Hande wat al drie dogters oorgegee het en skoonseuns met ‘n stywe handdruk verwelkom het in ons familie. Hande wat gebid het vir sy eie seun en glo hy is sy bul en boeta. Hande wat kleinkinders vertroetel. Hande wat al baie trane afgevee het, ook van sy eie. Hande wat al geliefdes begrawe het.

Nou.... na jare is hulle minder mooi, hulle bewe en die son het hulle verniel. Hulle is geplooi en daar is letsels. Meer as een.

Vir my is daai growwe hande sagter as die sagste omgee en liefde. Hulle is my beskerming en ons oorlewing. Dis my troos wanneer ek bang is. Hande wat al vele kere moes oppak en oor begin.

Hande wat altyd biddend bly en glo in die mooi. Die trouring 'n teken van sy woord is sy eer " Vir altyd".

Maar steeds na jare..... wanneer daai twee hande om ‘n sagte kinderhandjie vou, en daar is verstaan en daar is omgee dan voel dit so.... asof hy weer... soos vanmelewe boomhuise en sandkastele saam met hulle sal bou. Hande wat ‘n leeftyd se stories vertel. Oupa se stories.

  • Blogger - Dorita Janse van Rensburg

    Dorita Janse van Rensburg is vrou, dogter, ma, ouma en vriendin van vele. Sy woon op ’n plaas in die verre noorde van Limpopo. Sy sê: “Ek hunker elke dag na almal wat ver is, en moes noodgedwonge ander maniere aanleer om deel te bly van almal vir wie ek omgee. My liefde vir Die Woord en woorde hou my staande. Na drie jaar pas ek steeds aan en groei daagliks. Die plaaslewe bied egter ander bekorings en uitdagings.”

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.