Haai ou Slaaiblaar…

by Blogger - Anton Bester / Jan 10, 2017 / 1 Kommentaar / Gelees deur 555 mense.

Ons taal het darem lekker uitdrukkings so met die tyd ryker geword.  Een daarvan het die laaste jaar of so op die voorgrond getree…  “Haai ou Slaaiblaar...”  is nogal ʼn interessante manier om iemand te groet.  Vanoggend, op pad dorp toe, het hierdie uitdrukking nuwe betekenis in my verwysingsraamwerk gekry.

Dit is Dinsdag, en vir ʼn sekere deel van die dorp se honde beteken dit kooroefening, al agter die vullistrok aan.  Vanoggend is dit egter my gelukkige oggend want danksy my tydsberekening  val ek  sommer so met die eerste draai agter een van hierdie gevaartes in.  Terwyl ek my selfbejammering uitspreek, gebeur dit…  ʼn slaaiblaar teen die voorruit.  Sommerso, sonder vertoon waai dit uit die niksvermoedende vullistrok se bak. 

Onmiddellik is ek vies.  Hierdie is onaanvaarbaar.  ʼn Vullistrok is veronderstel om te help skoonmaak, nie om slaaiblare teen motorruite te plak nie.  Hulle is tog nie met ʼn advertensie-veldtog vir die plaaslike groentesmous besig nie.  Ek sit voet in die hoek en jaag by die trok verby en die bestuurder groet vriendelik met ʼn drie-tand glimlag voor hy rustig met sy bestuurswerk voortgaan.  Later, nadat ek my voorruit by die naaste vulstasie laat skoonmaak het, tref die tweede geluk my… nog ʼn vullistrok.  “Ai tog, vandag is die vullistrokke oraloor” hoor ek my eie stem.

Later, terwyl ek met my jaarbeplanning besig is, verskyn die boodskap onderaan my rekenaarskerm.  ʼn Goeie vriendin het ʼn fout gemaak.  Nee, nie een van daardie foute nie, sommer ʼn gewone fout.  Oor haar hele verduideliking pryk die onsigbare plakaat-woorde:  “Ek is ʼn mislukking!”  Ek weet nie lekker hoe om te antwoord nie, want ek is nie ʼn voorstander van bekende clichés nie.  Skielik speel  die slaaibaar-petalje in my gedagtes rond.  Die vullistrok het ‘n slaaiblaar-fout begaan.  Tog het ek later nie die gevaarte ‘n slaaibaar-morsjors genoem nie.  Daar is nogal ‘n verskil tussen “ek is…” en “ek het…”  Of so is ek in graad ses geleer...

  • Blogger - Anton Bester

    Anton Bester is filosoof, berader, skrywer en fotograaf. Deesdae bevind hy hom in die Weskus waar hy sy hartsvreugdes uitleef en in die gemeenskap help waar hy kan. “'n Man met ʼn hart vir sy medemens” volgens die mense wat hom ken. Word deel van sy Stoepstorie Familie by  https://www.facebook.com/groups/931804320194563/

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.