Graad 8 vir ma en kind

by Blogger - Hannelie van Niekerk / Jan 10, 2017 / 1 Kommentaar / Gelees deur 514 mense.

Een ding is verseker, die laerskooljare is te kort!  Graad 8 is nie ‘n probleem nie dit is die vrees dat dit nou net vyf jaar is dan gaan my oudste haar vlerke sprei.  Die wêreld gaan aan haar voete hang!  Het ek genoeg as ma gedoen?  Hoe beskerm ek haar in die wêreld van onheil en bose?  WAG!  Doemprofeet! STOP!  Fondasies is sterk.  Wil is sterk en dan daarby die mooi van binne en buite.

Al die vriendinne wat nou Hoërskool-ouers is tranerig.  Ek voel onseker en opgewonde op dieselfde tyd.  Dit warrel deur my siel.  Die oor en weer bel is meer vir myself as wat dit is vir my kind.  Altyd lekker om te hoor dat ander ook soos jy voel.  Woorde van moed word gewissel.  Die koshuisbrakke se mammas trek die swaarste.  Oor 5 jaar gaan hulle ons rots wees as ons kuikens dan die nes verlaat.

My kind moet ‘n ruimtewese wees.  Planne word gemaak oor wat om aan te trek en wat om te gebruik.  My kind is gelukkig.  Ek moet haar spasie gee om te leef en te oorleef.  Sy moet haar eie goed doen...  Dit is nie my plakkaat nie... dit is nie my uitrusting nie. Dit is nie my ontgroening nie.

Die onthou van kleintyd kom deurgesypel, ons was knortoffies met ons Standard 6 ontgroening.  Ons moes gemeneer en gejuffrou het van vroeg tot laat.  Afkyk was ons manier van loop vir baie lank.  Met my naambordjie en groot fopspeen het ek verwese gestaan… bang,  opgewonde en gedetermineerd.  My ouers het my spasie gegee om te leef en te oorleef .

Ek het van ‘n baie jong ouderdom geweet wat ek nie wil wees nie… so ek het geweet ek moet hard werk, my beste gee en my drome jaag. Dit gee my weer asem… my kind weet wat sy nie wil wees nie, so die toekoms wink blink vir haar. Met haar hart en siel is sy 'n kind van God. Met Sy wysheid is haar kompas reg gestel.   Vasgegryp in albei haar hande. Ek is nie in beheer nie.  Dit is tyd vir my om terug te staan en net te ondersteun.

  • Blogger - Hannelie van Niekerk

    Hannelie is 'n ma van 'n mooi tiener dogter en 'n boeta wat die lewe in hulle hande omvou. Ek is ʼn vrou vir een, my rots en my anker. Ek het ʼn ongeslypte liefde vir skryf. My kop vol woorde oor my ervaringe en hoe ek oor dinge voel, wat ek graag wil deel. Ek het onlangs begin blog by www.malkoppieterapie.com. Dit is my denke, my woorde, geskryf uit my hart.

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.