God se wil

by Blogger - Tania Delport / Oct 11, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 90 mense.

Dit verbaas my dat daar soveel boeke is rondom die wil van God. Dit blyk asof God se wil vir ons as mense, een groot, moeilike misterie is!

Ons wil weet wat God vir ons lewe wil, tog voel dit asof ons op n roltrap oppad na bo is, net om bo te kom en te besef, ons is weer op die roltrap, oppad af…  Ons vra onsself gedurigdeur af, is ons binne God se wil.  Ons dink om een of ander rede, die antwoord gaan ons vind in ons gedrag raamwerk.  Ons dink, as…as ons goed genoeg is, dan sal ons binne Sy wil wees. Ai hoe kompliseer ons mense nie die eenvoud van God se wil nie. (en ook sommer die liefde en lewe daarmee saam)

Dis eenvoudig. Ken God, ken Sy wil. Te veel mense weet van die Bybel byvoorbeeld maar ken nie die Outeur van die Bybel nie. Jy kan weet van die wil van God, om dit egter te doen het jy nie net die Bybel as gids nodig nie, maar ook die Toerleier Homself, die Outeur van die Bybel. God. Om te weet van God is een ding, om Hom te ken ‘n ander. Daarom maak dit sin hoekom ek dan deel, wys ‘n man of vrou wat ligtelik met sonde omgaan, en ek wys jou dan ‘n man of vrou wat ligtelik van God dink.

God se wil vir my jou en elke mens is so maklik soos 1 2 3. Dis doodeenvoudig: Verheerlik God in alles wat jy dink, doen en deel, oral waar jy gaan. Dis so eenvoudig as om jouself 24/7/365 te meet aan: Wat as Jesus nou hier instap, wat sou moes verander of anders wees, en dis die merk binne of buite die wil van God. So terloops, daar waar niks en niemand sien nie, dis presies waar God wel sien. En dit is wat ware karakter is, om te doen wat reg en goed is, selfs wanneer niemand sien, behalwe God.

  • Blogger - Tania Delport

    Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel.
    Tania Delport se G-I-L in die nag, het L-I-G in die dag geword. Haar lewe het vlerke gekry, dis tyd vir joune.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.