Glo jy aan nuwe lewe?

by Blogger - Annalize van den Heever / Mei 03, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 298 mense.

Ek sit onder 'n boom wat besig is om te bot. Van naby af kan jy dit nie eens sien nie. Onder is die stam swart van twee jaar terug se byna vernietigende brand.

As jy 'n paar tree terug staan sien jy die heldergroen nuwe blaartjies  aan die bopunt van die boom.

Soms moet ons ‘n paar tree terugstaan om werklik te sien.  Het julle al agtergekom hoe die dood ons altyd laat dink aan lewe? Ons sê dan met hartseer en spyt ‘Die lewe is so kort..dit kan in ‘n oogwink weggeneem word.’  en dan wend ons weer ‘n poging aan om die lewe te koester en te benut. Dis eintlik absurd, want hoekom laat dit ons dink aan lewe as ons klaar lewe?

Dis nie net die dood wat ons met spyt vul nie, dis ons huwelike ook.  Ons kom baie keer eers agter hoeveel ‘n persoon werklik vir ons beteken wanneer ons hulle verloor het. 

Ons verloor nie iemand oornag nie.  Liefde sypel soos water  in ‘n dun straaltjie by ‘n gekraakte damwal uit en die watervlak daal stadig maar seker.  Daar is partykeer ‘n welkome donderbui wat die vlak laat styg, maar dit keer nie dat die watervlak weer begin daal nie. Dit lek uit, bietjie vir bietjie.  Ons kom baie keer eers agter dat die damwal stukkend is as die krane leeg is.  Dan kan ons verbysterd nie glo dit het met ons gebeur nie.  Dan wil ons vrek van die dors.

Op hierdie punt blameer ons baie keer die ander persoon wat ook verantwoordelik was om die wal te onderhou, want dit kan mos nie ons skuld wees nie.  Kan dit?

Die gevaar is dat wanneer ons op hierdie punt is, ons so bang raak dat ons werklik sal sterf van die dors, dat ons bereid is om enige water te drink om die dors te les.  Selfs die vuil  toiletwater uit ons eie of iemand vreemds se toilet.

Ons vreet op wat die een wat ons seermaak vir ons aanbied of ons gaan soek dit op ‘n ander plek.  Ons word bereid om besoedelde, stink water te drink.  Ons gaan soek dalk momentele geluk in iemand anders se bed of arms.  Dit voel goed om waardeer te word, aangeraak te word.  Dis opwindend en dit les die dors in ‘n oogwink.  Partykeer laat ons bloot net toe dat die een wat ons liefhet ons behandel asof ons niks werd is nie, want toiletwater is beter as dors wees.

Hier is die aaklige waarheid... een glas toiletwater is nie genoeg om die dors vir ewig te stil nie. Die aanhoudende gesuip van stink toiletwater het die potensiaal om jou so siek te maak dat jy vir jouself en vir ander sterf.  Dit kan ‘n selfhaat veroorsaak wat jou verteer en jou laat glo dat jy dit nie verdien om liefgehê te word nie.

Dit is ‘n leuen!

Ek wil dit skree, want ek was daar en ek sien dit elke dag gebeur.   Ek weet wat die prys is van té lui of té arrogant wees.  Geen huwelik is veilig as dit nie deur albei partye gekoester word en opgepas word nie.  Baie min huwelike verbrokkel as gevolg van die dade van een persoon. Baie mense sê hulle sal dit nooit kan vergewe as hulle mans of vrouens hulle verneuk nie.  Hoekom is ‘n affair die grootste sonde in ‘n huwelik?  Verwaarlosing is net so ‘n groot sonde.   Ons moet ophou om ons maats op subtiele wyses af te kraak.  Dit laat liefde sterf.  Ons begin dink ons is ons maats se eienaars.  Dat ons kan sê en doen net wat ons wil en dat ons kan wegkom daarmee. Ons raak jaloers op ons maats se suksesse en herinner hulle gedurig aan hulle mislukkings.  Ons vergeet dat die Here vir ons sê die liefde hou nie boek van die kwaad nie.

Ons maak nie meer van ons maats ‘n prioriteit nie en behandel hulle asof ons hulle ‘n guns doen om by hulle te wees.  Ons hou op om tyd te maak vir ons maats.  Ons maak van ander dinge afgode, ons kinders, sport, werk, geld, skoene.  Ons kan honderde verskonings uitdink vir hoekom ons nie meer werk aan ons verhoudings nie.  Hy verstaan my nie, sy sien my nie meer raak nie, hy is vervelig, sy is vet, hy is nie meer die man met wie ek getrou het nie, sy sien net die kinders raak.

Het jy dit al vir hom gesê of is jy te trots? Het jy haar al gehoor of is jy te arrogant?  Het julle al werklik iets daaraan gedoen of is julle te lui? Ek praat nie van woorde nie.  Ek praat van dade.  Liefde is dade.  Woorde word ‘n gewoonte en beteken niks as dit nie daadwerklik bewys word nie. Is jy bereid om jou ou self af te sterf  om jou huwelik te red of heeltemal van voor af te begin?  Is julle altwee bereid om alles in die stryd te werp, want 50% ís nie genoeg nie. Is jy bereid om na jou maat toe te draai en vir hom/ haar te sê ‘Al lyk hierdie soos een massiewe boggerop en al voel dit asof en nooit weer met ‘n tang aan jou sal wil raak nie, is ons dit aan mekaar en aan ons gesin verskuldig om alles in die stryd te werp om dit te probeer uitwerk?’ Wanneer gaan mense besef dat liefde meer is as ‘n gevoel!  Dis ‘n verdomde keuse wat jy dag na dag maak te midde van PMS, bankrotskap, impotensie, middeljare krisisse, kanker, rekmerke, selluliet, moeilike kinders, droogte en woede.  Een persoon kan probeer totdat hulle blou in die gesig is, maar as dit nie altwee se hartsbegeerte is om die verhouding te red nie stel jy net die onvermydelike uit.  Jy kan nie iemand gevange hou met skuldgevoelens en manipulasie nie. 

Daardie gebarste damwal kán deur fyn beplanning en harde werk sterker word as wat dit nog ooit was.  Dit vat tyd, bloedsweet en trane, maar die beloning is so bitter groot.  Dit kan selfs heeltemal oorgebou word, maar daar is ‘n voorvereiste...altwee partye moet met alles wat binne hulle is dit wíl herstel. En ja, soms moet ons opgee as ons sien dat niks wat ons doen help om die dam te herstel nie.  As ons nie ten minste probeer nie sal ons nooit weet nie.    

Ons kan nie ons wêreld beheer nie en ons kan nie beheer wat ander mense aan ons doen nie, maar ons kan beheer wat ons aan ander doen.  Soms moet ons stilstaan en luister en werklik hoor.  In ander situasies moet ons ons arms om onsself slaan en onsself toelaat om elke emosie te voel en diep te beleef.  Soms moet ons na mekaar draai en mekaar weer raaksien en besef wat jy het.  En soms moet ons iemand se hand vat en styf vashou en in geloof begin bou al kan julle nie nou sien hoe dit ooit moontlik sal wees om dit reg te kry nie.

Ons moet partykeer die onvermydelike keuse maak  om om te draai en weg te stap van iets wat eens jou hele lewe was, maar wat nou al die lewe in jou binneste  doof. 

 Selfs dan moet jy lewe, want 'n stukkende hart laat jou nie ophou asemhaal nie.

Ons kan dit nie self regkry om iemand wat ons diep seergemaak het te vergewe nie.  Dit kom van die Here af.  Ons moet wel kies om dit te doen.  Sewentig maal sewe keer.  Soms oor en oor.  Ek is so moeg daarvoor om te hoor dat vertroue nie herstel kan word nie.  As jy dit sê ken jy werklik nie die Here se krag en mag nie.  Vertroue kán herstel word en jy kán iemand vergewe wat jou bitter seer gemaak het.  Dooie bene kán weer lewend word en in vreugde begin dans.  Dit kán.  Dit vat tyd vir die nuwe blaartjies om sigbaar te word by ‘n boom van oënskynlik dood is.  As jy die boom summier afkap gaan jy nooit weet dat die boom nog lewe nie.  Daar moet partykeer ‘n seisoen van rou en twyfel verbygaan voordat jy terugstaan en dit raaksien.  

Die vraag is meer eenvoudig as wat jy dink…wil jy of wil jy nie?

  • Blogger - Annalize van den Heever

    Annalize van den Heever is ma van drie dogters. Sy blog met eerlikheid en geesdrif oor dit wat in haar hart en lewe aangaan. Sy het al vir jare haar eie blog by www.dievervuldevrou.co.za wat sy beskryf as “‘n dagboek vir my (en eendag my dogters), oor my reis na vrede.”

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.