Giere en grille

by Blogger - Dorita Janse van Rensburg / Jan 11, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 546 mense.

Met armpies gevou, lippies styf toegeknyp kyk hy jou stip aan. Hy hou nie van aartappel nie, sit nie sy lippe aan pampoen nie en vleis is net eenvoudig sies. Wie het nog nie ʼn kind of grootmens met giere en grille beleef nie?

In ons gesin wemel dit van “vol nonsens” eters. Ek kan roem daarop dat my fiemies net ertjies is en daarom sluk ek dit sommer heel in. Ek is enige kok se droom!

Kort voor Kersfees kuier die twee Van der Merwe kleingoed by ons en soos altyd, maak ek waarvan ek weet hulle hou. Ek vind egter vinnig uit dat hulle “hou van” lysie daagliks verander. Wat gister hulle die bak laat uit lek het, is vandag taboe. Dis toe ek voor aandete aankondig dat dit vanaand net broodjies is en die vier jarige Daniël so terloops opmerk “no garnish, no greenpepper” en verder speel, dat ek my verbasing in die kombuis moes gaan uit lag.

My skoonseuns is weer glad nie kranige groente eters nie. Een van die dogters eet nie eiers nie en ons oudste was al vir ʼn paar jaar ʼn vegetariër. In daai tyd het ek die heerlikste groente geregte ontdek, wat nou nog gunstelinge is. Ek onthou ‘n keer tydens ‘n braai waar haar Pa per ongeluk haar sojafrikkadel met die vleistang omgedraai het…. sy was glad nie gelukkig nie.

Van braai gepraat… die braaier moet omtrent kophou met almal se vereistes… een helfte se vleis kan nog deur die veearts deurgehaal word, die ander helfte se vleis amper geoffer en so ‘n paar mediums. Ons eet net slaghuis vleis en het al vele kere stert tussen die bene toegekyk hoe ander persone ons vleis van die rooster af eet en daar net hulle selfgeslagte vleis lê wat uit ‘n geel plastieksak kom.

Nietemin is dit ‘n vreugde om my gesin te voer met dit waarvan hulle hou. Ons lyk so goed want ons eet so goed!

 

  • Blogger - Dorita Janse van Rensburg

    Dorita Janse van Rensburg is vrou, dogter, ma, ouma en vriendin van vele. Sy woon op ’n plaas in die verre noorde van Limpopo. Sy sê: “Ek hunker elke dag na almal wat ver is, en moes noodgedwonge ander maniere aanleer om deel te bly van almal vir wie ek omgee. My liefde vir Die Woord en woorde hou my staande. Na drie jaar pas ek steeds aan en groei daagliks. Die plaaslewe bied egter ander bekorings en uitdagings.”

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.