Gebed en vriendskap met God

by Blogger - Jacques Bornman / Mar 01, 2016 / 1 Kommentaar / Gelees deur 1516 mense.

Watter een van jou verhoudings herinner jou die meeste aan jou verhouding met God?

Is daar ’n verskil tussen jou onmiddelike antwoord en wat jy eerder sou antwoord?

Oor die jare ontwikkel ons ’n prentjie van God, en die prentjie is bepalend van hoe ons met God omgaan.  Die prentjie kry vorm deur wat jy in jou gesin en families beleef, jou kerklike tradisie, ander se leiding en jou eie ervarings. Ons is meestal onbewus van ons prentjie van God - dit is soos om ’n onsigbare bril op te hê waardeur ons na alles kyk.

Johannes 15 vertel dat Jesus vir sy volgelinge sê dat hy hulle nie “langer slawe noem nie, maar my vriende”. Die Goeie Nuus is dat God nie kwaad is vir die mensdom nie. God het ons geskep vir vriendskap - nie omdat God aan enige iets tekort het nie, maar vanuit die oorvloed van Sy liefde.

Wat is jou reaksie daarop dat God in ’n verhouding van vriendskap met jou wil staan?

Hoe sal dit vir jou wees om gebed te sien as ’n kans om tyd te spandeer saam God, jou vriend?

William A Barry skryf in sy boek A friendship like no other, dat dít wat lei tot goeie vriendskap ook nodig is vir goeie gebed. Ons word genooi om meer as net ons versoeke aan God op te noem. Natuurlik verwelkom God dat ons in diepe vertroue vra, maar vriendskap is soveel meer. Vriendskap beteken om jou hart - jou vrae, teleurstellings, drome en emosies - met die Ander te deel.

Ek wil jou nooi om in die komende paar dae ’n afspraak in jou dagboek te maak vir tyd saam jou Vriend. Kies ’n tyd waar jy op jou beste is, kies ’n gemaklike stoel en maak vir jou koffie. Praat hardop met God oor alles wat in jou hart en lewe aan die gebeur is. Dikwels is dit helpvol om dit neer te skryf soos jy in ’n brief sou. Neem dan ’n paar oomblikke om net in stilte te wees saam God wat jou ook sy “vriend” noem.

 

  • Blogger - Jacques Bornman

    Jacques Bornman is ’n leraar by Mosaïek-gemeente, waar hy die Skool van Gebed lei. Hy is getroud met Lizl, en jy sal hulle heel moontlik vind in een van Johannesburg se koffie-winkels.
    Volg Jacques op Twitter @jacquesbornman of besoek sy blog www.jacquesbornman.com.

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.