Dit is tyd

by Blogger - Annalize van den Heever / Sep 19, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 329 mense.

As ek ‘n paar jaar terug geweet het wat ek nou weet sou ek een van my kinders Chardonnay genoem het.

Laat ek dit nou maar sê soos wat dit is...my kinders laat my soms visioene kry van ‘n wasige glas yskoue wyn in my hand terwyl ek  na die beeldskone natuur staar.  In my visioen hoor ek vrolike voëltjies en druisende bergstrome. 

Ek het soms nodig om die bloedjies uit te blok en te fokus op iets oordadig heerlik net om deur die dag te kom. Aan die ander kant is dit dalk beter dat ons nie in die toekoms kan inkyk nie, want ek sou beslis nie gewild gewees het nie.

My kinders maak my moeg, maar hulle ontketen ook rou en diep emosie by my. Vreugde, hartseer, angs, kommer, verwondering... ek stop net soms nie lank genoeg om die wonder te beleef nie. Ek haak vas by hulle vordering op skool, prestasies en wat hulle nodig het om eendag suksesvolle volwassenes te wees.  Let’s face it, ek wil eendag weer ordentlike gesigroom kan bekostig en dit kan net gebeur wanneer my werpseltjie selfonderhoudend is.

Dit voel asof die gejaagde lewe en kommer oor die dag van môre tyd by my steel.  Dit was nou die dag Januarie en nou beplan ons al amper ons kersfees ete.  Waar is die jaar heen? 

Ek wil nie meer nie! 

Ek wil nie meer so moeg aan die einde van elke dag wees nie.  Ek wil meer lag en gesels saam met my man en kinders.  Ek wil met my honde gaan stap en die lentebloeisels  raaksien.  Ek wil ‘n vuur in die middel van die week maak en buite sit terwyl die voëls kwetter in die bome.  Ek wil koffie op die stoep saam met my geliefde drink en net kuier.  Ek wil meer luister, speel en liefhê.  Ek wil tyd hê vir stilword voor die Here.  Ek wil elke oomblik beleef en voel.  Ek wil nie soos ‘n afgestompde zombie deur die lewe strompel nie. Ek wil nie voel dat álles ‘n gejaag na wind is nie.

Ek wil ook nie eers besef hoe kosbaar die lewe is as ek met siekte of dood gekonfronteer word nie.  Ek wil nou vreugde proe en vreugde gee! 

Ek wonder soms wat die Prediker van vandag se lewe sou gesê het?  Ons lewens is woes en die ergste is ons veroorsaak dit baie keer self! Ons sit druk op ons kinders om te presteer en ons sit verskriklike druk op onsself om vir ons kinders die geleenthede en dinge te gee wat ons nie gehad het nie.  In die proses verloor ons totaal en al die punt van lewe.   Ons maak ons lewens vol met dinge wat ons glo belangrik is, maar dit maak ons net moeg en leeg.

Vra bietjie vir jou kinders wat maak hulle werklik gelukkig ... ek kan nou vir jou sê dat min kinders gaan sê dat dit is om Dux leerling te wees of om in die eerste netbalspan te wees.

As hulle vir jou sê ‘n iPhone, moet jy weet jy het bietjie werk om te doen...lekker giggel ek nou.

Ek het vir my kinders gevra en al drie se antwoord het iets te doen gehad met tyd.  Ons tyd saam as ‘n gesin, alleentyd met my.  My oudste dogter het tot vir my gesê as ek vir haar kom  nagsê in die aand nadat sy in die bed geklim het.

Wanneer laas het jý stilgestaan en vir jouself gevra wat maak jou gelukkig? 

Bederf jouself jou KOSBARE vrou.

  • Blogger - Annalize van den Heever

    Annalize van den Heever is ma van drie dogters. Sy blog met eerlikheid en geesdrif oor dit wat in haar hart en lewe aangaan. Sy het al vir jare haar eie blog by www.dievervuldevrou.co.za wat sy beskryf as “‘n dagboek vir my (en eendag my dogters), oor my reis na vrede.”

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.