Dit IS tyd!

by Blogger - Suna Potgieter / Mei 08, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 548 mense.

Daar is die laaste tyd baie geredekawel, gestry en geskryf oor die It’s Time byeenkoms in Bloemfontein.  Daar was kampe vir elke denkwyse...

Ek het soms verwonderd na alles gekyk en geluister en gewonder wat die Here hiervan sou sê. Ons verwag mos soort van dat al Sy kinders dieselfde glo.

 Maar nee, beskuldigings van valse profete, Angus-aanbidding, geestelike snobisme, vermorsing van geld, gierigheid en “elitisme” is wild en wakker rondgeslinger. En dit was nog net die opmerkings van Christene!  Voeg nog daarby nie-gelowiges, draadsitters en ateïste se opmerkings en debatering (massahisterie en opsweping, wat IS nou eintlik sonde en wie het die reg om daaroor te besluit, Christene se “holier-than-thou” houdings, bestaan God ooit, ens ens) en jy het behoorlik ‘n hutspot van oor-en-weer moddergooiery. Ek het soms gevoel ek moet net koes of ek word deur een of ander misbol getref, selfs al sit ek veilig in my studeerkamer voor die rekenaar.

Ja, ek was daar, en niemand sal my ooit kan oortuig dat die dag nie deur God self geroep is nie. So as jy nie met my saamstem nie, maar NIE DAAR was nie, spaar jou asem met ‘n antwoord….ek glo sekere dinge moet met die kop beredeneer word maar ook met die hart gevoel en ervaar word voor jy ‘n ingeligte opinie kan hê. En wanneer dit by  geestelike kwessies kom, kan ons onmoontlik net op ons kennis staatmaak.

Ek glo DIT IS TYD dat ons as gelowiges leer om die Here se stem in ons binneste te hoor en te voel. Dit kan net gebeur as jy jou verhouding met Hom koester en gereeld met Hom in gesprek is…. Bid-luister-bid-luister-bid!! Ons moet Hom vra wat dit is wat ons moet doen.  Jy sal weet wanneer Hy jou hart warm maak vir ‘n situasie/omgewing/persoon. En as dit gebeur…dan IS DIT TYD dat ons opstaan en ‘n verskil maak…in ons gesinne, ons werkplek, ons omgewing.  Ons kan nie meer net sit en die “minderbevoorregtes” jammer kry, die dwelmverslaafdes oordeel, die weeskinders met ons ou klere “seën” en die politici sleg sê nie. As ons ‘n verskil in ons land wil sien moet ons daadwerklik ons hande uit ons moue steek en ons vingers in die modder druk. Verander ten minste een persoon se lewe deur betrokke te raak op die lang termyn en sy/haar menswees aan te raak. Jy MOET uit jou gemaksone kom en God se lig en liefde êrens gaan uitdeel waar daar ‘n tekort daarvan is. 

En ons moet na mekaar se harte luister… ek het nie nodig om God te verdedig of Sy “battles” vir Hom te veg nie… Hy is heeltemal instaat om dit self te doen. My werk is om Sy liefde te verkondig en te versprei… ek het nog bittermin van mense gehoor wat na God gedraai het op grond van feite of redenasies.  Mense verander wanneer hulle harte aangeraak word…. wanneer hulle die God waarvan ons hulle probeer oortuig, deur ons ontmoet. So ja, DIT IS TYD… steek jou hande uit en gee die LIG aan!

  • Blogger - Suna Potgieter

    Ek is vrou en ma wat daagliks vreugdes asook vrae ervaar, soms blindelings vertrou en ander dae uit vrees sommer wil opgee. Ek is lief vir mense, maar hou van my alleentyd. Ek hou van lees, fotografie, enigiets blou en laatnag-geselsies. Ek het begin blog by Rhythms of Grace as terapie ná ons trek Suid-Kaap toe, en uitgevind my ondervindings kan soms ander inspireer. Ek blog ook by https://enroutestories.wordpress.com/ waar ek meer algemene stories neerpen om myself en ander te herinner aan God se goedheid en voorsiening.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.