Dis nou 5 jaar...

by Blogger - Annien Botha / Aug 11, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 313 mense.

“Jy moet ophou skryf oor jou fisiese pyn en liewer iets daaraan doen.”

Die onkundige woorde sny diep. Tog hou ek aan skryf (my terapie - anders het ek seker mal geraak van frustrasie en woede oor die onbegrip van ander.)

Vandag is dit vyf jaar gelede wat my lewe handomkeer, vir altyd, verander is deur ‘n spinale koord besering. Ek het ‘n C6C7 besering opgedoen, my nek gebreek op die N1 digby Kaapstad. Nadat ek vir 3 maande verlam was, was ek dankbaar dat ek kon loop. Dit was geheel en al ‘n wonderwerk, sê die dokters. Dit is nie medies moontlik dat ek weer sou kon loop, of my arms en bene kon gebruik nie. Ek het gesmeek dat ek nie nou al sou doodgaan nie. Na ‘n nabydoodse ervaring in die hospitaal, is my gebed beantwoord.

Vyf jaar het gevoel soos ‘n vyf jaar in die tronk…van selfbejammering, gevoel van hulpeloosheid, angs, verwardheid, vrees, woede.. Ek het eendag gekreun: “ek dink nie ‘n GEWONE mens sou hierdie pyn kon verduur nie..!”

Het dit  enigsins makliker geraak om saam met hierdie besering te leef?

Het ek gewoond geraak daaraan?

Kortom, NEE.

Ek is jammer as dit nie is wat mense wil hoor nie maar dis die waarheid.

Dis ‘n eensame pad. So dikwels distansieer jy jouself..’n mens wil net tot op ‘n punt met ander meng wat nie verstaan nie. Ek voel “walking quads” (soos hulle ons noem) word afgeskeep en min oor geskryf, of selfs nie eens van geweet nie. 

Dis ‘n lang klim na ‘n nuwe normaal..al loop, ry en oefen ek al, het ek dit nog nie heeltemaal aanvaar nie. Dis so belangrik dat nie net die liggaam nie, maar ook die siel en gees herstel.

Ek het die mooiste van mense gesien in hulle ondersteuning, maar ook die slegste. Die ongeduld..die veroordeling omdat hulle nie weet nie..of die kanse wat hulle met my vat.. Ek het geleer dat ek moet VERGEWE.

Ek beveg die besering deur soggens yoga, pilates en callinetics te beoefen.  Mediese behandelings is duur en die gym het my terapieplek geraak.

Sekere dae is die oefening baie pynlik vir my, soveel so dat ek die bloed uit my gesig voel tap, en dat die instruktriese al ‘n keer voor my kom buk het met die woorde, “you must take it easy..you must remember, you have come a Loong way..you’ve travelled very very far..” Mettertyd het ek begin voel dat ek weer beheer oor my lyf begin neem, selfs oor die pyn. Hoewel die ouer vroue steeds beter as ek in die klas vaar, laat hulle my weer “normaal” voel as ek hoor van hul skete (hoewel my besering seker ‘n rapsie erger is as hulle s’n).

25% van die 50% gevalle wat neuropatiese pyn het na so ‘n besering, het dit lewenslank. Elke keer wat ek dink ek kan die pille nou maar weggooi, word ek weer daaraan herinner dat ek nie daarsonder kan funksioneer nie.

Die besering het meer hanteerbaar geraak, maar geensins sou ek sê dat dit iets is wat ek aan gewoond geraak het nie. Die waarheid is dat dit sleg was vyf jaar gelede toe ek wakkergeword het in die hospitaal, en terwyl baie dinge gebeur of verander het, is dit steeds sleg vandag.

Weereens, ek is jammer as dit nie die idee of storie is wat mense wil hoor nie maar ek was nog altyd net reguit en eerlik.

Een ding wat ek erken ek geleer en aanvaar het is hoe om oomblikke van geluk aan te gryp en hoe om vreugde te vind ten spyte van my daaglikse uitdagings.

Volle blog op webblad hieronder.

  • Blogger - Annien Botha

    As internasionaal gekwalifiseerde skoonheidskundige,  spaterapeut en huishoudkundige skryf Annien oor SKOONHEID en GESONDHEID op alle terreine.  In 2012 was sy betrokke in ‘n ernstige motorongeluk  wat haar beroep as terapeut na 20 jaar beëindig het. Sy het egter besluit om te bly skryf en blog in haar beroep. Sy inspireer met haar eie gedagtes, dade en lewensverhaal sowel as die van mense rondom haar.
    www.annienhealthandbeauty.wordpress.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.