Die Verbloemde held in my lewe

by Blogger - Christel Coetzee / Dec 22, 2016 / 0 Kommentaar / Gelees deur 630 mense.

Asof 2016 nie genoeg vuishoue ingekry het nie word my kragte vir oulaas beproef! Dit het alles begin nadat ek en my seuntjie met ‘n sug van verligting by die motor kom na ons Kersfees inkopies.

Ek draai die sleutel, maar my motor wil van niks weet nie!

My man is al weke lank besig met ‘n groot projek en nie naby om tot ons redding te kom nie, maar ek bel oudergewoonte nog steeds: “Liefie, die kar wil nie aanskakel nie”. Ek weet hy kan niks aan die saak doen nie, maar ek is vies dat hy nie daar is nie. Waar is Superman as jy hom nodig het?

Hy bel iemand om ons te kom haal en ons stap uiteindelik laat die aand by die huis in. Ek besef toe, ek het nie ‘n voertuig nie! My 16-jarige seun moet die volgende middag op die bus klim, hy gaan George toe vir ‘n lekker see-vakansie.

Die volgende oggend stop manlief die spaarsleutel in my hand net voordat hy werk toe ry. “Ek het jou kar vanoggend gaan haal. Dis die immobiliseerder, jy kan solank die spaarsleutel gebruik totdat ek ‘n plan gemaak het.”

By Pretoria stasie aangekom, wil ouboet vir oulaas ‘n paar goedjies in sy tas stop, maar toe hy die ritssluiter wil toemaak, skeur hy oop van hoek tot kant.

Ons is die strate in en hardloop uiteindelik by ‘n klein “Spaza-winkel” in “Bag, please, we need a bag!”

Ons hardloop met ‘n enorme bloedrooi tas deur die strate en kan nie help om te giggel oor die petalje wat voor die stomgeslane toeskouers afspeel nie.

Al my aanmanings oor netjies pak en klere wat kreukel is by die agterdeur uit, ons gooi sommer die klere in en haas ons na die busstop – net betyds!

Die mannetjie is uiteindelik veilig op die bus. Ek haal die parkeerkaartjie uit my handsak en besef dan dat ek my laaste geld op die rooi tas uitgegee het!

Toe ek na ‘n lang gewag in die OTM se ry my bankkaart in die masjien se gleufie druk om geld te trek, ontgaan elke greintjie moed my - “You have reached your daily limit”

Ek stap terug na my motor en begin huil! Nie pikante trane nie, watervalle van soutspore spoel skaamteloos oor my wange terwyl ek in my motor rondkrap om elke sent bymekaar te maak wat ek in die hande kan kry.

Toe ek einde ten laaste genoeg geld bymekaar kon maak om my kaartjie te betaal en op pad is huis toe dink ek terug aan al die superheld oomblikke waarin die verbloemde held in my lewe telkemale tot my redding gekom het.

Ek het die wonderdade van my held vanselfsprekend begin neem. “Here, help my tog om elke dag die super magte raak te sien van die huweliks-held wat U vir my gegee het”

Daardie aand toe my held, na ‘n lang dag, by die huis kom druk ek hom styf vas en in plaas daarvan dat ek kerm oor die tas en die bus en die parkeerkaartjie, fluister ek net sag in sy oor “Jy is my Hero!”

  • Blogger - Christel Coetzee

    Christel Coetzee geniet die ligter sy van die lewe, maar haar hart vind ook anker in dinge wat werklik saak maak! Sy streef ewig daarna om die perfekte balans te vind tussen vrou-wees, Ma-wees vir haar pragtige drie seuns, ‘n huweliksmaat vir haar man, Braam en haar dinamiese rol in die korporatiewe wêreld. Sy droom daarvan om regoor die wêreld te reis en om haar deel te doen om ‘n veranderde wêreld te sien.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA