Die taal wat die liefde praat

by Blogger - Christel Coetzee / Feb 07, 2017 / 1 Kommentaar / Gelees deur 1982 mense.

Ek word hierdie week toegeknoop in 'n kombers van eensaamheid en wil die hele tyd uitroep "Hou my tog net 'n bietjie vas!"

My hart verstaan die taal van aanraking en kwaliteittyd, dis wat die sleutel is wat die eensaamheid verdryf, wat my warm en veilig en geliefd laat voel.

Die taal van diensbaarheid verstaan ek natuurlik glad nie! Hoe op dees aarde wil jy vir my wys dat jy my lief het deur Saterdae oggende jou lyf MacGyver te hou? Los die skroewedraaier en kom drink eerder saam met my koffie by Mugg & Bean!

Ek wonder soms hoekom ons nie almal net een taal kon praat nie, soos hulle gemaak het voor die toring van Babel. Almal kon mekaar verstaan en niemand het noodkrete uitgeroep vanuit hul binneste nie!

Ek sit vasgevang in my gedagtes toe manlief uiteindelik laat die aand by die voordeur instap. Ek kom sommer dadelik agter iets is fout, hy krul homself op in die bed en ek kan sien dat hy regtig in pyn is, want hierdie man kan pyn vat!

Ek jaag met hom hospitaal toe en na ʼn uitmergelende 6 ure bevestig die dokter dat sy blindederm moet uit!

Terwyl ek langs sy bed sit voel ek so magteloos, ek hou sy hand vas, maar my liefdestaal kan nie die wonde gesond maak nie. Skielik is daar geen grense nie, ek besef dat ek enige taal sal praat, al voel dit vreemd, solank hy net weet, ek het hom lief!

Na die operasie is hy so swak en afhanklik van my en ek besef daar is niks in hierdie wêreld wat ek nie nou vir hom sal doen nie. Terwyl hy die narkose afslaap dink ek terug aan die taal van die liefde en aan die eensaamheid van vroeër. Dit is belangrik om mekaar te eer deur ʼn suiwer, verstaanbare liefdestaal te praat, om bereid te wees om te werk aan jou kommunikasie metodes sodat jou ander helfte sonder twyfel weet hulle is geliefd.

Daar is skielik ʼn diep begeerte in my hart om die liefdestaal se woordeboek nader te trek, ek wil weet wat hierdie man se hartsnare roer en as ek dan nou op die eetkamer tafel moet staan op ʼn Saterdag oggend om ʼn gloeilamp om te ruil – so be it!

My hart smag steeds daarna dat hy ook die taal wat my hart praat sal soek sodat ons albei met suiwer klanke vir mekaar ʼn liefdes gedig kan skryf, of dit nou met die ruil van ʼn gloeilamp of ʼn koppie koffie in Mugg & Bean is.

Mag die twee harte in jou huwelik hul eie taal begin ontwikkel, ʼn nuwe lied oor mekaar sing, wat die ander een verstaan.

Hier is op die liefde!

  • Blogger - Christel Coetzee

    Christel Coetzee geniet die ligter sy van die lewe, maar haar hart vind ook anker in dinge wat werklik saak maak! Sy streef ewig daarna om die perfekte balans te vind tussen vrou-wees, Ma-wees vir haar pragtige drie seuns, ‘n huweliksmaat vir haar man, Braam en haar dinamiese rol in die korporatiewe wêreld. Sy droom daarvan om regoor die wêreld te reis en om haar deel te doen om ‘n veranderde wêreld te sien.

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.