DIE SKAAL – VRIEND OF VYAND?

by Blogger - Marlene Boonzaaier / Dec 23, 2016 / 0 Kommentaar / Gelees deur 645 mense.

Saam met die koms van die warmer weer staan  jy moedeloos elke oggend voor jou kas en wonder wat om aan te trek. Die winter se “layering” word noodgedwonge weggepak om plek te maak vir die ligter en koeler somers ensemble.  Wat ‘n groot ontnugtering as jy dan skielik besef dat die winter nie baie vriendelik was met jou lyf nie en dat jy ernstig plan moet maak om van al die skade ontslae te raak.

Met groot huiwering haal jy die skaal uit die kas, stof dit af en klim vir die eerste keer in 4 maande weer daarop.  Vir sommige sal dit ‘n aangename verrassing wees, as die huidige getal nie veel verskil van die een 4 maande terug nie en vir sommige, soos ook vir my, het daar nogal ‘n skok gewag. 

Dit bly maar ‘n ewige stryd en een waarin ek ook nou gewikkel is. As jy die een uitrusting na die ander aanpas en jy lyk meer soos ‘n opgestopte wors as ‘n supermodel, dan is alle grappies vinnig op ‘n stokkie.

Nou die groot vraag:  WAAR BEGIN MENS?

Die groot geheim is balans....  maar wat is balans? Balans is net die regte hoeveelheid van als... genoeg vrugte en groente, genoeg proteïne en suiwel en so titsel stysel en vette daarby. Dan moet jy ook nie die 2 liter water elke dag en oefening  vergeet nie.

Dit klink skrikwekkend om te hoor, maar onthou  ons vat dit dag vir dag en jy het die hele dag om daardie 2 liter water te drink. Dit hoef darem nie binne ‘n uur of twee gedoen te word nie.  As jy regtig nie weet waar om te begin nie, is dit altyd ‘n goeie idee om ‘n dieetkundige te gaan spreek, hul weet wat werk en nie en sy kan vir jou ‘n plan uitwerk wat by jou behoeftes en lewenstyl pas.

Baie belangrik om te onthou:  kitsdiëte werk nie, dit tap net jou energie en laat jou moeg en nog meer moedeloos voel en glo my, ek praat nou met myself ook want ek is nogal geneig om na strooihalms te gryp en elke moontlike stukkie advies oor gewigsverlies te lees en te probeer.

 So het ek al van die slegste konkoksies in my lewe probeer sonder enige sukses: van water gemeng met gemmer, mint blare en komkommer, kookwater met heuning en kaneel en moenie die laaste een vergeet nie, lemoensap met heuning en appelasyn. Als belowe jou om binne ‘n paar dae ‘n hele paar kilogram af te skud en dan kom die groot ontnugtering.... daar is nie eens ‘n roering op die skaal se naald nie!

Net daar word die skaal sommer jou grootste vyand en jy staan voor die groot keuse of jy die skaal moet weggooi en of jy eerder nuwe batterye moet insit en more weer probeer.

Weer probeer, uithou en aanhou bly maar die beste opsie al voel dit vir jou of jy nooit gaan lyk soos die modelle in die tydskrifte nie.  Onthou elke vrou is uniek en pragtig geskape. Ons liggame is tempels en ons is prinsesse, so as ons dit so behandel en respekteer deur gesond te lewe eerder as om te maer wees, dan is ons al op die regte pad.  Dit is ook baie goeie raad wat ons aan ons dogters kan oordra...

Maer is nie altyd mooi nie, maak nie saak wat die wêreld daarbuite ons wil laat glo nie. Solank jy gemaklik voel in jou klere en jy tevrede van die spieël kan wegstap dan het jy al ‘n groot deel van die stryd gewen. 

Kry ook genoeg ondersteuning... Geen oorlog is nog ooit gewen deur een soldaat nie. Dis net soveel makliker en lekkerder as daar iemand is wat saam met jou die gesonde leefstyl kan aanvat en ook saam met jou oefen, of dit nou gereeld stap of fietsry is, saam met ‘n goeie vriendin of selfs jou man maak dit  regtig die moeite werd en dan sorg dit sommer ook vir ‘n bietjie “bonding” tyd in hierdie besige lewe van ons.

Sterkte dames en glo ek dink aan julle en is saam met julle in hierdie oorlog  teen gewig.

LYK MOOI – VOEL MOOI GROETE TOT VOLGENDE KEER

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

  • Blogger - Marlene Boonzaaier

    Marlene Boonzaaier het haar eie skoonheidsalon in Sasolburg. Na skool het sy 'n skoonheidskursus gevolg by die Harrieth Jane Skoonheidsakademie in Potchefstroom. Daarna het sy onder andere vir Steiner Transocean aan boord van die Veendam gewerk, waar  sy waardevolle ondervinding opgedoen in skoonheid sowel as alle spabehandelings en massering.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA