Die nuwe generasie... GAT!

by Blogger - Emsie Führi / Apr 24, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 652 mense.

In Deuteronomium 6:6, noem Moses die volgende “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan”.

Hierdie wyse woorde is tot vandag toe geldig. Dit gaan daaroor dat ons as ouers met ons kinders moet prààt.

In die geskiedenis van Israel is dit juis hierdie opdrag van Deut 6:6 wat daartoe gelei het dat hulle, as ‘n nasie, die enigste kultuur is, wie se jongmense nie verwesterlik het nie. Hulle kinders keer gewoonlik na hulle Joodste geloof terug wanneer hulle volwassenes word.

Ons, as ouers, is besig om op ‘n daaglikse basis ons kinders te faal as ons nie leef volgens Deuteronomium 6 nie. Ons kinders is vandag besig om deur baie moeilike tye te gaan en ons, as ouers, maak die keuse om hulle te los, soos volwassenes te hanteer en hulle die geleentheid te gee om hulle self te vind. En al wat hulle eintlik nodig het is ‘n ouer wat bietjie met hulle wil gesels en te lei in die regte rigting waarin hulle moet beweeg.

Die blogger, Jenny O’Hare het ‘n lys saamgestel oor dinge waarmee jongmense vandag sukkel:

Cyber Bullying and Stalking”: Die internet het die gedaante van afknouery geweldig verander. Die afknouer los nie meer fisiese merke op ons kinders wat maklik deur ons as ouers sigbaar is nie. Ons kinders lyk dieselfde van buite, maar is soms stukkend van binne. Baie kinders gaan deur kuber-afknouery en ons as ouers moet verseker dat die kanaal van kommunikasie oop is sodat ons kinders die vrymoedigheid het om met ons te kan gesels. Ongelukkig het soveel tieners al hulle lewe op tragiese maniere geneem omdat hulle net nie meer kon nie.

Seks: Seks is ongelukkig een van daardie dinge vandag wat oral beskikbaar is. Ons kinders word om elke hoek en draai daarmee gekonfronteer. Baie ouers sal vir my sê dat hulle nie nou al met hulle kinders oor seks wil praat nie, want hulle is te jonk. Statistieke toon egter dat kinders vandag op’n baie jonger ouderdom eksperimenteer met seksuele aktiwiteite as wat ons as ouers besef.

Dwelms en drank: Daar is ‘n ou spreekwoord wat sê: “Ledige hande is die duiwel se oorkussing”. Kinders is op hulself aangewese en is dikwels alleen tuis want albei ouers moet werk. In vandag se tyd is dit ‘n algemene aanvaarbare aktiwiteit om te drink en dwelms te gebruik onder die jongmense. Jongmense se behoefte om “in te pas”, maak die deur oop vir ongewenste voorstelle en bedrywighede wat hulle lewe kan verwoes.

Prestasie: Om te presteer het vandag so belangrik geword, dat ons soms vergeet dat ‘n kind bestaan uit GEES, SIEL en LIGGAAM. Die druk wat onderwysers, ouers en die samelewing op kinders vandag plaas, veroorsaak angstigheid en onnodige spanning en die jong kind is nie in staat is om dit te kan hanteer nie.

Verdowing teenoor geweld: Soms verstom die gruwelike en gewelddadige speletjies wat kinders speel my. Dan vertel ‘n 6-jarige weer vir my van die storie oor ‘n pop wat lewendig word en mense begin dood maak, wat sy gekyk het wat haar nou nagmerries gee en ek is uit die veld geslaan. Geweld het so normaal geword vir ons kinders dat hulle afgestomp geraak het daarvoor. Hierdie konstante gewelddadige beelde verander ons kinders se manier van dink en hulle algehele uitkyk op die lewe.

So hoe gaan ons as ouers hierdie probleem oplos?  Deur die heeltyd met ons  kinders te praat. Net soos Moses die Israeliete beveel het, gesels met jou kind as jy sit, as jy staan, waar jy heengaan. Soms is ons nie altyd wakker of emosioneel gereed wanneer ons jong tiener met ons wil gesels nie, maar maak tyd, dis belangrik.

Onthou om net met ons tiener te praat, gaan nie altyd ‘n impak maak op sy lewe nie.  Dit is hoekom die Here eers by die volwassene begin en noem dat die Woord van die Here moet deel wees van jou lewe voordat jy dit vir jou kind kan inskerp. So, pas op jou eie lewe toe wat jy preek!

Dis ons, as ouers, se verantwoordelikheid om die woord van God deel te maak van ons lewe sodat wanneer ons tieners na ons toe kom vir raad daar Bybelse kennis is wat jy met hom kan deel. Onthou niks in die lewe het ‘n vinnige oplossing nie, so wanneer jou tiener by jou kom sit, maak tyd. Tieners sien jou tyd as liefde vir hulle.

  • Blogger - Emsie Führi

    My naam is Emsie Führi, ek is 'n Opvoedkundige Sielkundige. Ek het my Onderwysgraad in 2004 klaar gemaak en daarna my studies in die sielkunde hervat en 'n Meestersgraad in Opvoedkundige Sielkunde gedoen. Ek is betrokke by verskeie skole waar ek skolastiese sowel as emosionele/gedragsprobleme aanspreek. Ek het ook my eie praktyk in Wonderboom-Suid, Pretoria.

    Ek is self 'n mamma van twee kinders, Ruben en Dané. Ouerleiding is vir my 'n passie en ek geniet dit om saam met ouers te sit en oplossings vir alledaagse kinderprobleme te vind.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.