In die Loveseat op die Cam rivier

by Blogger - Annabelle Lombard / Oct 09, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 98 mense.

Voor ons vertrek uit SA stel ons gasvrou Punting in Cambridge voor, maar ek het geen idee wat dit is nie en moes gaan lees dis ‘n platboomboot met ‘n vierkantige boeg, wat met ‘n paal weggestoot word.

Dis een van die moetdoen dinge in Cambridge sedert die 1860’s.

Met ons aankoms in die mooie Universiteitsdorp drup die wolkies bietjie en ons verseker ons gasheer dat ons glad nie nou hoef te gaan roei nie. Ons  tyd is so beperk en ‘n 45 minute riviervaart lyk oordadig.  Hulle vat egter geen verskonings nie en laai ons terstond in ‘n punt gedryf deur ‘n man met ‘n pragtige Britse aksent (soos almal hier!).  Hy ken boonop Suid-Afrika na hy vir ‘n ruk in Malmesbury gewerk het.

Ons word toegerus met komberse en sambrele, maar sit knus en droog heel agter soos verliefdes saam met toeriste uit elke kontinent.  Ons besef dadelik ons het onwetend in ‘n belewenis geklim wat ons vir die res van ons lewens sal bybly.  Ons puntsman vermaak ons met die universiteit se indrukwekkende geskiedenis wat reeds oor 8 eeue strek.  Hy wys vir ons die gebou waar Stephen Hawking aan sy Doktoraat gewerk het.  Hy vertel ons van bekende Cambridge alumni, onder meer politici, adelikes, wetenskaplikes en skrywers soos AA Milne – die skepper van Winnie the Pooh. Groot name soos Darwin, Prince Charles, Emma Thompson, Newton en Byron.

Ons vergaap ons aan die kenmerkende Virginia Creeper wat vlamrooi in sy herfs glorie teen die ou geboue opkruip.  Die bekendste landmerk, die King's College Chapel, slaan ons asem weg. Ons vaar verby ‘n trougeselskap onder die treurwilgers op die sprokiesmooi groen walle en drink elke oomblik in onder elke mooi bruggie waarvan die Brug van Sugge sekerlik die mooiste is.  Ons hoor van geheime organisasies, sien die biblioteek by Trinity College en leer oor die ryk geskiedenis en tradisies van hierdie tweede beste universiteit in die wêreld (weer in September aaangewys).

Terug op land word ons na die oudste en bekendste Eagle Pub geneem.  Hier is die DNA string ontdek en  RAF vlieëniers het hulle eskadernommers in die dak gebrand tydens die tweede wêreldoorlog. Heerlike knus matte, swaar hout meubels, baie geskiedenis, heerlike geselskap, bier en die beste vis en pastei ooit, maak ons van binne en buite warm.

Cambridge was nie op my emmerskoplysie nie en hierdie wonderlike dag was net ‘n pragtige geskenk.  Dis nou die luukse daarvan om saam met inwoners van ‘n land te toer. Totaal verras en oorrompel deur hierdie  hoogtepunt, loop ons weg met die Universiteit se motto in ons harte: “From this place, we gain enlightment and precious knowlege.”

  • Blogger - Annabelle Lombard

    Ek is 'n ma, eggenoot en liefhebber van mooi goed. My wortels lê in die weskus dorpie Lutzville. Daarna het ek my Bedryfskommunikasiegraad aan die PUK verwerf en met die beste man in die wêreld getrou. Ek het twee seuns en werk deeltyds vir 'n kerk in Pretoria. Ek is 'n borskanker oorlewende, koorsinger, tuinier, toeris en ewige student van die lewe.  Vandaar die naam van my blog: Bella la Vita (die mooi lewe) annabellelombard.wordpress.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.