Die klein jakkalsies tussen my en jou

by Blogger - Christel Coetzee / Jan 05, 2017 / 2 Kommentaar / Gelees deur 2337 mense.

Daar is niks wat jou huwelik kan beproef soos ‘n kamp naweek met twee kleuters terwyl die son in sy volle glorie, met ‘n skitterende 30 grade skyn nie. Daardie klein jakkalsies begin mos so kou aan jou binneste met sulke klein porsies irritasie en word dan afgesluk met ‘n hele dosis ongeduld.

Eers probeer jy jou emosies beheer deur liefs niks te sê nie, maar jy hoef ook nie, want die kyk in jou oë sê mos genoeg vir die ander een om die skimp te vang! In die hitte van die dag begin al daardie emosies op ‘n ry voor jou deur staan en dring daarop aan om gehoor te word!

Arme manlief weet nie wat hom tref nie, want skielik word hy uitgetrap oor die Aromat wat hy twee weke gelede op die Spar se rak vergeet het. Ons baklei oor al daardie klein dingetjies wat kriewel en krap aan die binnekant, maar eintlik sê ons niks - nie dit wat werklik saak maak nie.

Met ‘n sug en rollende oë draai elkeen sy rug op die ander terwyl die jakkalsies partytjie hou in die stilte. Die Woord waarsku ons  juis dat dit daardie klein jakkalsies is wat ons huwelikswingerd verniel.

Ek het nie regtig geselskap nie en is maar aan my eie gedagtes oorgelaat so in die stilte, dan wonder ek, kan hy nie net sien hoe belangrik dit vir my is om gehoor te word nie!

“Here, waar kom dit nou skielik vandaan?” vra ek sommer hardop. Ons het vir so lank al hierdie klein dingetjies onder die mat ingevee, dit nooit werklik op die tafel gesit en in die oë gekyk nie. Ek het nie besef dat daar ‘n dieper seer is wat gesond maak nodig het nie.

Dis mos nie lekker om jou eie tekortkominge voor jou vertoon te sien nie, al daardie lelike goed wat jy so hard vir ander probeer wegsteek.

 “Dis moeilik Here, waar moet ek begin?” In my geestes-oog sien ek hoe Jesus my hand vat en sê “Jy het sopas begin!”

Ek wil 2017 dapper wees en al daardie jakkalsies die hok slaan! Here, kom maak my ore skoon sodat ek kan begin luister en maak my hart sterk sodat ek die waarheid vierkantig in die oë kan kyk hierdie jaar!

Miskien is dit makliker om my eie sienswyse te verander as om aanhoudend te skaaf aan die menswees van ‘n ander om hulle in my boksie te laat pas.

Jakkalsie pasop, ek kom vir jou!

  • Blogger - Christel Coetzee

    Christel Coetzee geniet die ligter sy van die lewe, maar haar hart vind ook anker in dinge wat werklik saak maak! Sy streef ewig daarna om die perfekte balans te vind tussen vrou-wees, Ma-wees vir haar pragtige drie seuns, ‘n huweliksmaat vir haar man, Braam en haar dinamiese rol in die korporatiewe wêreld. Sy droom daarvan om regoor die wêreld te reis en om haar deel te doen om ‘n veranderde wêreld te sien.

kommentaar (2)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.