As die hoop beskaam

by Blogger - Mariska Ford / Jan 11, 2017 / 1 Kommentaar / Gelees deur 1042 mense.

“Jy het soms eers ’n storm nodig om te ontdek waarop jy jou hoop vestig.” Jannie le Roux

As nuwe ma was my hoop om ʼn “Happiest Baby on the Block” te hê. Dié boek het ’n gelukkige en kalm baba gewaarborg as jy alles tot op die letter volg wat hulle voorskryf. Gewapen met dít, Suster Lillian en “Koester jou Baba”, was ek reg vir die nuwe avontuur wat vir my voorgelê het.

Ek was seker van myself en het kalm en rustig alles gedoen wat hulle sê. Maar, ons seuntjie was nie een van daardie outjies wat jy in ’n boksie kon druk nie. Hy het aanhoudend gehuil, gekreun, gesteun en gekriewel. Hy was beslis nie “happy” nie, ek het konstant soos suur melk geruik en die donker kringe om my oë het die stand van my gemoed weerspieël.

Hy het koliek en refluks gehad. Ek het besluit om net lewe te spreek (soos die pastoor ons geleer het) en as iemand vra hoe gaan dit, sou ek sê “Dit gaan baie goed, dankie”. So, het ek bly hoop op ’n gesonde baba wat deur die nag slaap en rustig op sy magie lê en koer vir my.

My hoop was op ses weke. Toe raak dit drie maande, wat verander na nege maande. Na ’n jaar se uitgestelde hoop het my swakke siel in ’n diepe depressie verval. Die hoop het my beskaam en my brose gees was in opstand oor my lot.

Een oggend, in ons huis op Stellenbosch, staan ek op my knieë en kyk na Simonsberg terwyl die trane uit my oë stroom. “Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom?” skreeu ek uit. “Jou hulp kom van die Here, wat hemel en aarde geskape het” kom die antwoord.

Net daar, voor die berg, raak hoop vir my iets tasbaars wat ek moet vat en op iets neersit. Ek kan kies. Ek kan my hoop neersit op boeke wat ’n wonderwerk belowe. Ek kan my hoop in ’n resep sit wat sê “spreek lewe” of in ’n goeie nagrus of in my gemak...

Of ek kan my hoop sit op God. Die Een wat my geleer het om te bid “laat U wil geskied” en die enigste bewys dat hoop regtig bestaan.

In hierdie jaar, moet ek opnuut kyk waarop ek my hoop sit. Is dit op dinge, mense, materiële welvaart, gemak, voorspoed, gesondheid, ’n man, ’n kind of ’n goeie werk? Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek maak steeds hierdie behoeftes en begeertes aan Hom bekend en hou aan om positief te praat, maar my hoop is op God.

Op die Een wat sê Hy sal alles ten goede laat meewerk. Op die Een wat sê Hy gaan saam met my deur die dal van doodskaduwee. Op die Een wat my by die naam ken en my nog NOOIT beskaam het nie.

Want dan kan ek opreg saam met Dawid in Psalm 131, sy pelgrimslied sing waar hy sê: “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”

 

  • Blogger - Mariska Ford

    Mariska Ford is ʼn vryskutskrywer en ʼn voltydse verteenwoordiger vir die skoner geslag. Dit was altyd haar droom om die gesogte ‘ma-van-die-jaar’ en ‘knapste-vrou-ooit’ toekennings te wen totdat haar siel rus gevind het. Deesdae kies sy daagliks om die perfekte lewe te verruil vir die kronkelpad van genade.  Wanneer sy nie skryf nie, ry sy kinders rond, maak kos en hou die hond en kat uitmekaar. Mariska woon in Pretoria saam met haar man en twee woelige seuns.

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA