Die Here is my herder wanneer dit besig raak...

by Blogger - Ansa Van Geest / Jan 11, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 192 mense.

Ag nee, hoe het ek dit reggekry dat my eerste week in Januarie reeds so besig is? My kop is (weer eens) oortyd besig. Skoolgoed  bymekaar sit, lysies afmerk, klere pas, reg pak, weg pak. Werk het begin, maar die laaste vakansie vriende kom loer nog in.

Jy giggel as jy nog ʼn oproep kry. In jou hart gaan dit dol maar jy koester die vriendskap. Mense wat die moeite doen om bande te hou. Jy skuif die goed wat rond lê vinnig weg en sit die ketel aan. Die kuier was lekker.

Vanoggend word ek vroeg wakker. Ek smag na ʼn bietjie rus.. en dit na ʼn vakansie. My vingers blaai ongevraagd na Psalm 23. “Die Here is my Herder... Hy laat my rus in groen weivelde.” Ek voel hoe my gejaagdheid stadig word. Dis asof ek weer die vakansiegevoel onder Sy boom op die groen weiveld kry, op my bank in my sitkamer. My rustige vingers blaai na Psalm 37. My oog val op die onderstreepte versie: “Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” Die woorde: woon en werk rustig voort staan uit.

Ek besef dat dit goed is om hier aan die begin van die jaar by die vers te stop, want tussen alles wat ʼn werkende mamma moet doen, moet ons kan leer om ook rustig te word. My man het ʼn manier  waarmee hy my kan aanjaag as ons amper laat is: “Vat jou tyd maar maak net gou.” Dit werk altyd want dit bring kalmte. Om met rustigheid, gou te kan maak.

Op facebook het ek onlangs die idee gesien dat jy weekliks iets moet neerskryf wat goed was sodat jy aan die einde van die jaar met dankbaarheid kan terug kyk. As ek terug dink aan hierdie week was dit  verseker die onverwagse kuier van vriende uit die Noorde wat uitstaan. Die vreugde van die lewe lê immers eerder in vriendskappe as in ʼn netjiese huis. Ek wonder of ʼn mens ooit hierdie jaar op jou lysie van hoogtepunte gaan skryf: “My huis was hierdie week mooi skoon.” Ek hoop nie so nie. Dis nie dat ek nie ʼn skoon huis begeer nie, inteendeel. Dit sal my egter net bekommerd maak as dit my grootste hoogtepunt van die week word.

Vanoggend het ek kalmte begeer. Dankie dat ek dit in U woord kon kry. Ja Here, my lysies is steeds baie en die meeste van dit moet regtig gedoen word. U leer my om rustig te word sodat ek kan doen wat ek moet. Die Here is my herder...

 

  • Blogger - Ansa Van Geest

    Ek is 'n voltydse mamma van vier kinders (13,11 en 'n tweeling van 7), en 'n deeltydse dokter. My gawe is om die Here te dien met sang en musiek en om die mooi in dinge raak te sien. Ek hou van stories van hoop en dit is lekker om my gedagtes in woorde om te skakel. Ek kry my energie van hardloop en van die berge en die see rondom my in Somerset-Wes.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA