Die enigste kandidaat

by Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen / Apr 24, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 928 mense.

Ons woon die ‘It’s time!’ gebeds-inisiatief in Bloemfontein by. Daar is meer mense bymekaar as wat ek al ooit op een slag bymekaar gesien het.

Ons wil ons land sien verander. Dan slaan oom Angus die spyker op die kop – begin by jou familie!

Terwyl ons hande vat om te bid, staan ek tussen twee manne. Die een is ‘n wildvreemde Indiërman en die ander een is my geliefde Marthinus. Ons word aangemoedig om na die mense weerskante van ons te draai en vir hul te sê ons is lief vir hulle. Ons is immers die ‘rainbow nation’. Dis ‘n besonderse belaaide oomblik as jy dink aan die geskiedenis van ons land. Ek kyk na my man en dink dis logies dat ek hom liefhet. Ek’s seker hy weet dit. Ek draai na die vreemde man aan my linkerkant, ons kyk mekaar in die oë en sê gelyk: ‘I love you’. Die trane rol oor ons wange. Orals rondom ons gebeur dieselfde ding. Dis ‘n goddelike oomblik. Dis wonderlik vir lands-transformasie.

En dan kom die volgende uitdaging van die verhoog af: ‘Ja, en jy meneer wat die hele wêreld wil verander, maar nie tyd het vir jou familie nie, dit begin by jou huis!’ Die woorde sny soos ‘n dolk. ‘Charity begins at home’. Jou familie is jou eerste sirkel van verantwoordelikheid. Familie is jou oefengrond vir die evangelie. As jy die hele wêreld wen en jou familie verloor, ontneem jy hulle ‘n geleentheid om Jesus ‘up close and personal’ te ontmoet.

Soos vir ‘n werksonderhoud is daar baie kandidate wat aansoek kan doen vir ‘n pos. Mense kan selfs opgelei word om gereed gemaak te word vir ‘n spesifieke rol. Maar in die rol van ‘n vrou vir haar man wees is niemand beter gekwalifiseer as ek nie. As ek leemtes laat, dan is daar leemtes. Ek is die enigste kandidaat vir daardie rol. Ek draai na my man, druk hom styf vas en sê ‘I love you’. Ek gaan dit nog ‘n paar miljoen keer sê, solank as ek lewe.

  • Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen

    Marthinus en Bianca Steffen is vir die laaste sestien jaar getroud en steeds opgewonde daaroor. Hulle sal onomwonde erken dat hul nie perfek is nie, maar dat hul beter saam is, as apart. Hulle hou van laat-aand geselsies, koffie, lees, draf, saam reis en nuwe plekkies ontdek.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.