DIE BEGIN VAN MA SE VAKANSIE!

by Blogger - Henriëtte Trollip / Jan 09, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 357 mense.

Op 11 Januarie 2017 begin my vakansie  Jippee!!! JA, ek is deeglik bewus daarvan dat die skool dan begin, en NEE ek het gelukkig nie in Desember (toe die res van die samelewing vakansie gehad het) aan een of ander verbode middel verslaaf geraak nie.  Maar vir meeste ma’s is skoolvakansies, alles behalwe vakansie.

Die oomblik as die laaste skoolklok vir die jaar lui is my beplanning in plek... Die taxi-diens wat daagliks tussen skole en aktiwiteite beweeg is gestop, geen kosblik hoef gepak te word nie (dit kom in elk geval vol terug huis toe), en daar is geen kind wat my om 06:45 die oggend gaan meedeel dat haar skoolrok wonderbaarlik uit die wasmandjie geklim en in ‘n hopie op die kamervloer gaan lê het nie.  Dus is die beplanning eenvoudig:  Week 1 “tackle” ek die kaste, week 2 vir kreatiwiteit met verf en materiaal.  Daarna ‘n week se rus langs die water met ‘n “KOORS” (Deon Meyer)... maklik?

Ongelukkig nie. Die huishoudster/bediende/butler  in meeste huishoudings neem mos ook verlof en bly die kaste agterweë met die geskarrel… julle weet mos… Jou fokus is: “Eat, dishes, laundry, repeat”.  Die kersie op die koek is dat die minderjarige wesens in die huis ‘n rowwe jaar gehad het, en dus nou hulle sosiale welstand as die hoogste prioriteit beskou (die huis MOET VOL kinders wees).  En met die somer in volle swang is swem (en lyf wys) aan die orde van die dag en die berg nat handdoeke jou voorland.  Op hierdie kritieke stadium is dit ook nodig dat jy weet watter eet en drinkgoed verkies word asook die presiese hoeveelhede wat deur tieners verteer kan word.

Natuurlik begin die “KOORS” roep en voel jy soos ‘n tiener op haar eerste “date” as die kar gepak is vir die wegbreek.  Moet asb. nie te optimisties raak nie.  Daar is slegs ‘n breukdeel van ‘n sekonde tussen die oomblik wat jou rusplek gereed is, en wat die eerste versoeke van jou reisgenote begin inrol:  Pa is honger, die orkaan wil VANDAG haar eerste vis vang en die tiener se mond is ballon grote omdat die omvang van haar vriendekring nie die reis kan meemaak nie.  Om tot tien te tel gaan nie werk nie… die alfabet, dalk.  Dus los jy elkeen om te doen wat hy wil (dit geld vir MA ook).  Teen dag drie kry niemand meer koffie in die bed nie a.g.v. die gebrek aan skoon breekware en by dag 5 het hulle die doel van die vadoek en Sunlight liquid langs die opwasbak onder die knie.   Wie het gesê kinders leer niks op vakansie nie?

Dinsdag is Maria weer op haar pos en Woensdag is die minderjarige wesens ook “gepos”… skool toe.  Hopelik kan ek nou alles doen wat ek vir my vakansie beplan het.

 

 

  • Blogger - Henriëtte Trollip

    Henriëtte Trollip is ’n getroude ma van twee dogters, onderskeidelik 8 en 13 jaar oud. Sy het grootgeword en gematrikuleer in Standerton en na haar studies vir 16 jaar in Personeel bestuur gewerk. Sy het haar loopbaan vaarwel geroep in 2013 om haar passies naamlik skryf, kinders, musiek, kultuur en gemeenskapswerk uit te leef. Tans is Henriëtte Snoepiebestuurder by ’n Laerskool en gebruik haar vrye tyd om te skryf. Sy glo dat ons die klappe van die lewe met baie genade, ’n knippie sout en tong in die kies kan trotseer.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.