Die alien in my huis

by Blogger - Annalize van den Heever / Sep 01, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 3551 mense.

Elkeen van ons dra wonde saam en elke liewe mens kry êrens seer in hulle lewe. 

Die tiener wat nou die dag in Vredekloof in die Weskaap weggeloop het, het heel moontlik al baie seergekry.  Die kommentaar van mense wat haar en haar omstandighede nie eens ken nie het my stomgeslaan.  Sy kort ‘n ordentlike pakslae was die gewildste.  Sy is verskriklike name genoem en veroordeel deur sogenaamde christelike volwassenes. 

Huh?  Sal ‘n pakslae by ‘n kind wat waarskynlik al baie seerder as houe op haar boude gekry het, werklik ‘n verskil maak?   Weet jy hoe ‘klein’ en kwesbaar ‘n dertienjarige nog eintlik is?    

Ek weet, want my dogter is veertien.  ‘n Vriendin het een keer die volgende gesê oor haar tienerdogter; ‘Dis asof sy as háár kind gaan slaap het, maar as ‘n alien wakker geword het.’  Ek het natuurlik gedink dit sal nooit met my dogter gebeur nie, maar die alien is hier. Dis ‘n nuwe fase in my kind se lewe en ek moes alien taal aanleer.  Soms raak sy weg in my huis.  Sy is so baie op haar eie dat ons maklik kan vergeet sy is daar. 

Weet jy wat in jou kind se lewe aangaan?  Ken ons werklik nog ons tieners of los ons hulle agter hulle toe kamerdeure en dink dit is aanvaarbaar dat hulle nie meer saam met ons in die openbaar wil verskyn nie.

 ‘Toemaar Sussie, ek weet die grootmense is boring.  Bly maar by die huis en doen jou huiswerk.’ 

Wat maak hulle agter die toe kamerdeure?  Waarna kyk hulle?  Met wie gesels hulle? Lag hulle nog en speel hulle nog?  Is hulle gelukkig en lief vir hulleself? 

Die hartseer feit is dat baie kinders nie meer hulle eie lewens leef nie. Hulle kan op sosiale media enige iemand wees wat hulle wil wees.  Dis soos ‘n dwelm.  Die goedkeuring van wildvreemdes gee vir hulle die fix wat hulle nodig het.  Om gewoon te wees trek nie aandag nie.  Dis dan wanneer ‘n dertienjarige meisietjie ‘n foto op Facebook post van haar bene wat ontbloot is.  Skielik kry sy aandag.  Baie siek aandag, maar vir haar die aandag wat sy nodig het om goed te voel oor haar lewe.  Sy het meer en meer van hierdie dwelm nodig en sy glo later al die leuens wat sy vir haarself vertel.

Die Heuwels Fantasties sing ‘Dinge wat jy miskyk sal in opstand kom.  Die kleinste ding wat jy miskyk sal in opstand kom.’

Kyk ons ons kinders mis?  Ons is saam in een huis, maar alleen.  Selfone isoleer mense.  Elkeen is op ‘n aparte plek in dieselfde huis besig met aparte dinge.  Niemand leef meer hulle eie lewe nie.  Ons bemoei ons met mense wat ons nie eens ken nie terwyl ons mans, vrouens, ouers en kinders stom skree vir aandag, aanvaarding en begrip. 

Net jý sal weet wat in jou huis aangaan.  Net soos ék weet wat in my huis aangaan. 

Die wegloop van daardie onbekende graad 7 dogtertjie van die Wes-Kaap het my geruk.  Sy moes lankal verlore gevoel het voordat sy gekies het om in ‘n vreemde kar te klim om na ‘n vreemde plek te gaan na vreemde mense toe. 

Ek weet ook baie goed dat jy nie fisies hoef weg te loop om verlore te wees nie. 

Sien jou Alien raak al verstaan jy nie wat de heng in daai koppie aangaan nie. Meng in in hulle lewens, want dit wys dat jy belangstel.  Jy irriteer hulle anyway op jou beste dag, so gee hulle nou maar ‘n rede om geïrriteerd met jou te voel.  Bly hulle ouer.  Hulle het genoeg tjommies.

Ons moet die voorbeeld wees wat hulle volg.  Ons moet leiding gee en beheer vat.  All Star tekkies en iphones vervang nie drukkies en aandag nie, al maak dit hulle harte momenteel bly.  Gee jou tyd en aandag vir hulle.  Dis die dinge wat hulle laat voel dat hulle lewens die moeite werd is om te lewe. 

Kyk na hulle en sien hulle raak.

#closeddoorsmustfall

  • Blogger - Annalize van den Heever

    Annalize van den Heever is ma van drie dogters. Sy blog met eerlikheid en geesdrif oor dit wat in haar hart en lewe aangaan. Sy het al vir jare haar eie blog by www.dievervuldevrou.co.za wat sy beskryf as “‘n dagboek vir my (en eendag my dogters), oor my reis na vrede.”

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.