Briefies aan myself

by Blogger - Christa Grobbelaar / Oct 10, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 661 mense.

Ek weet ons lewe in die elektroniese eeu, en ek het lankal my vrees vir ‘n rekenaar verloor.

Tog kan ek die gewoonte om notas te maak, nie afleer nie: regte notas met pen of potlood, op papier. Ek blaai deur die boek waarin ek notas gemaak het tydens my TEFL (Teaching English as a Foreign Language) kursus net na my aankoms in Thailand.

Baie van my kriptiese aantekeninge, besef ek nou, was lewensredders: GLIMLAG DIE HEELTYD. MOENIE SKREEU NIE.  DEMONSTREER EERDER AS VERDUIDELIK. Ja, dié notatjies skreeu in hoofletters – hierdie goed is belangrik. Ek wens ek het dit geweet toe ek ‘n jong juffrou was. Miskien het iemand dit toe ook vir my probeer leer, maar ek het nie geluister nie. Jong mense weet mos alles. Dalk het ek vergeet? Of in die gejaag net nagelaat om dit toe te pas?

Rondom party “briefies aan myself” het ek blokkies getrek om dit uit te lig: Prys en beloon altyd. Oordryf. Wees lewendig. Moenie te veel praat nie – laat die kinders praat. Moenie groot woorde gebruik nie. Kry eers deelname – daarna werk jy aan korrektheid. Beplan vir die ergste. Hou altyd ‘n “Plan B” gereed. Wees “approachable” maar ferm. Maak dit pret! Lyk en klink soos ‘n onderwyser as jy respek wil afdwing. Drink genoeg water. Dra ‘n waslap saam, en selfs ‘n ekstra hemp – jy gaan sweet.

Party van hierdie is Thailand-spesifiek – ek het byvoorbeeld nooit in Suid-Afrika ‘n behoefte aan ‘n waslap en ‘n ekstra hemp gehad nie, maar ek dink tog jong onderwysers moet dalk duideliker ingelig word oor die “sweet-aspek” van skoolhou. Natuurlik bedoel ek dit nie 100% letterlik nie. Skoolhou is wêreldwyd werk wat in die sweet van jou aanskyn gedoen word. Maar sommige van die ander notatjies sou my klaskamer dalk ‘n bietjie vriendeliker (vir myself en die kinders!) gemaak het as ek dit elke dag en heeldag toegepas het.

Hierdie brokkies wysheid is gegee met die oog op skoolhou, maar noudat my loopbaan in die laaste pylvak is, besef ek dat beginsels soos glimlag altyd, prys en beloon altyd, wees lewendig,  en (veral!) moenie te veel praat nie ook van baie groot waarde in die alledaagse lewe is. Hoeveel makliker sou dit nie wees as ons almal hierdie dinge probeer doen het nie?

Die laaste enetjie is ‘n stukkie Boeddhiste-wysheid wat ek nie eens in Afrikaans gaan probeer vertaal nie. Dit is so mooi, so slim, en so ongelooflik wys – en dié een spesifiek is nie net vir onderwysers nie, maar vir die lewe. Myne veral:

In the end, three things matter: How well have I lived? How much have I loved and learnt from the love? And how graciously have I walked away from the things that were not meant for me?

  • Blogger - Christa Grobbelaar

    Christa Grobbelaar is ‘n mamma van twee volwasse dogters, die vrou van een van die laaste regtig goeie mans op aarde (as al die stories waar is), en ‘n juffrou van baie kinders. Sy en haar man, Willem, is albei onderwysers en het mekaar in Bultfontein in die Vrystaatse platteland ontmoet waar hulle albei se onderwys-loopbane begin het.  Christa het aan die destydse Bloemfonteinse Onderwyskollege studeer  en daarna haar BA-graad met Sielkunde as hoofvak deur Unisa verwerf. Sy het haar loopbaan as onderwyser afgesluit as departementshoof aan Welkom-Gimnasium en was ook vanaf 2011 tot 2016 die nasionale interne moderator vir Engels vir die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Behalwe vir haar mense, is lees en skryf haar twee groot liefdes.  Sy het na ‘n vroeë aftrede vir een semester in Thailand gaan skoolhou en met ‘n blog begin as teenmiddel teen die verlange na Suid-Afrika. Dié persoonlike blog, Christastories, is te sien by christainthailand.wordpress.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.