Boererate vir 'n gesonde huwelik

by Blogger - Christel Coetzee / Mar 31, 2017 / 1 Kommentaar / Gelees deur 1179 mense.

Ouma Gertruida het 'n boekie vol boererate gehad vir enige denkbare kwaal. 'n Halwe koppie van dit, gemeng met twee dessertlepels van dat.

Wanneer Ouma daardie boekie nader trek het al wat ʼn kleinkind is in elke windrigting laat spaander! Dit het Ouma natuurlik nie laat wapen neerlê nie. As jy dit sou waag om jou neus verby die hoek te steek, het Ouma met haar konkoksie reggestaan. Al wat jy hoor voordat jy die stryd oorgee is ʼn gedetermineerde, “Dit werk!”

My Tannie Gerda en Oom Peet is die 23ste April, 62 jaar getroud. Dit laat my aan Ouma se boekie dink. Om vir 62 jaar saam met iemand die lewe te deel, kwalifiseer jou in my mening ʼn plek in daai boekie!

Toe ek my Tannie vra of hulle met ons die geheim sal deel sê sy:

 “Ai sussie, ek dink nie jy kan ons as voorbeeld hou nie. Ek bid maar net vir genade, want as ek vir krag moes bid weet ek wie sou tweede kom.” Ek giggel lekker vir haar en voeg sommer self (ʼn goeie sin vir humor) by voordat sy haar wyshede met my deel:

  • • Kommunikasie
  • • Gebed – Om God saam te aanbid
  • • Uithou en aanhou
  • • Spasie om jou eie ding te doen
  • • Respek
  • • Eerlikheid
  • • Belangstelling in mekaar se doen en late
  • • Waardering en om nie altyd fout te vind nie
  • • Opoffering
  • • Optimisme

 

Sy sluit dan af deur by te voeg:  “As jy die ander een altyd eerste kan stel, kom meeste van bogenoemde vanself.”

Nou kyk, die wat my goed ken sal weet, die gedagte van laaste kom is vir my ietwat van ʼn uitdaging – om die minste te sê!

God kom herinner my egter daaraan dat om jou maat eerste te stel nie beteken dat jy verloor nie! Wanneer jy God se hart vir jou maat optel is daar niks lekkerder as om hul met sy liefde te bedien nie. Ek en jy het die geleentheid om God se goedheid en liefde aan ons maat te openbaar deur die manier waarop ons hul behoeftes aanspreek.

Tannie Gerda en Oom Peet belowe nie ʼn maklike pad nie, maar na 62 jaar saam tel jy ʼn ritme op tussen die twee van hulle.

Mag die doepa van die liefde jou hierdie week inspireer om jou maat te bederf! Wie weet, jy mag dalk ook eendag die 62 jaar merk haal en in my boek is dit ʼn wenresep!

Ek sien Ouma weer staan met haar boekie in hand en daai kyk in haar oë: “Dit werk!”

  • Blogger - Christel Coetzee

    Christel Coetzee geniet die ligter sy van die lewe, maar haar hart vind ook anker in dinge wat werklik saak maak! Sy streef ewig daarna om die perfekte balans te vind tussen vrou-wees, Ma-wees vir haar pragtige drie seuns, ‘n huweliksmaat vir haar man, Braam en haar dinamiese rol in die korporatiewe wêreld. Sy droom daarvan om regoor die wêreld te reis en om haar deel te doen om ‘n veranderde wêreld te sien.

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.