Blogger van die week - Madelé Burger

by Blogger - Toortsie / Aug 08, 2016 / 0 Kommentaar / Gelees deur 1735 mense.

Madelé Burger, beter bekend as Toortsie onder die bloggemeenskap, is deesdae volbloed skrywer. Haar eerste boek, Toortsie se Banting Boerekos, vaar wêreldwyd goed en is ook nou in Engels vertaal.

Haar stories verwelkom jou in haar wêreld en maak mens lus om alles net te los en in die Overberg te gaan kuier.

Waar en hoekom het jy begin blog?

Ek het my eerste blog, ‘Madelé oor leef’, in 2010 begin en dit later vervang met ‘Toortsie se blog’ by Wordpress.

Die fliek, ‘Julie & Julia’ het my geïnspireer om ʼn blog te begin, my stories en opinies oor dinge te vertel en sodoende ook interessante geselskap te kry.  

Beskryf jou blog...

Dis ʼn geselsblog waar ek oor enige ding skryf: Die lewe, geloof, reise, ervarings. Soms is ek sommer net laf. In die proses hoop ek om ʼn positiewe bydrae tot iemand se lewe te maak.

Wat geniet jy die meeste daarvan om ʼn blogger te wees?

Ek is mal oor die interaksie en die saamkuier, as mense reageer op wat ek skryf. Ek geniet die skrywery en die ontwikkeling en groei wat ek in my eie lewe ervaar. Ek kry te doen met mense wat soms soos ek voel en ander wat heeltemal ʼn ander siening het, waardeur ek baie leer.

Het jy enige toekomstige doelwitte vir jou blog?

Ek probeer steeds op my skryfwerk te verbeter en hoop dat my blog aktueel sal bly. Deur my blog is ek ʼn werktuig in God se hand en mag dat dit altyd vir Hom tot eer wees.

Wat is jou gunsteling blog wat jy ooit geskryf het en wat jy graag sal wil hê mense moet lees?

Ek het al so baie geskryf, dis moeilik om ʼn gunsteling te kies. Een waar ek met myself die draak steek, is: ‘Ai tog, die name!’ https://toortsie.com/2011/02/12/ai-tog-die-name/

Een wat my baie na aan die hart lê, is ‘Die einde van ʼn era’ https://toortsie.wordpress.com/2013/08/30/die-einde-van-n-era/

Watter blog van jou het die meeste hits en kommentaar gekry?

Verreweg die meeste, dit word daagliks nog die meeste gelees, is: Watter werk kan ʼn mens van die huis af doen? https://toortsie.wordpress.com/2011/02/17/watter-werk-kan-mens-van-die-huis-af-doen/. En ook: Verklaring oor my taal. https://toortsie.wordpress.com/2011/01/03/verklaring-oor-my-taal/

'n Meer ernstige bloginskrywing wat nou al hoe meer aandag kry, is: ‘Was jy al ooit moedeloos?’ https://toortsie.com/2010/10/05/was-jy-al-ooit-moedeloos/

 

  • Blogger - Toortsie

    Madelé Burger (Toortsie) is 'n ma, ouma en boervrou. Sy en haar man, Kobus Burger, boer in die Overberg. Madelé is betrokke by die administratiewe kant van hul gemengde boerdery.  Sy het ‘n BComm-graad en HOD aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, sowel as diplomas in Christelike Nood- en Traumaberading en Bybel- en Godsdienskunde aan die Hugenote Bybelinstituut, en ‘n sertifikaat in Vervoerekonomie aan die Universiteit van Johannesburg. Besoek haar blog: toortsie.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA