Bloedlyn

by Blogger - Hannes Maree / Oct 09, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 103 mense.

Ek het op ‘n plaas in die distrik Bultfontein, Vrystaat grootgeword.

Die afgelope paar maande het ek ‘n projek aangepak om navorsing te doen oor my familie, so vanaf die geslag wat sedert die begin van die einde van die 19de eeu op die plaas begin boer het. Halfpad deur die navorsing het ek begin twyfel of ek nie eintlik maar besig is om my tyd te mors nie. Wat ookal in die verlede gebeur het, is mos nou deel van die geskiedenis en het derhalwe niks met my toekoms te doen het nie. Ek het nietemin die projek onlangs afgehandel en die resultaat was ‘n dokument van 52 bladsye met feitelike inligting en fotos van my voorgeslagte. Sommige van die fotos daarin was meer as 100 jaar oud – iets besonders.

Tydens my stiltetyd een aand ongeveer twee weke gelede, voel ek dat die Heilige Gees my lei om Mattheus 1 te lees. Maar Mattheus 1 is mos van Josef en Maria en Jesus se geboorte en dit is ‘n gedeelte wat ons vir Kersfees bêre. Ek is egter moeg na die lang dag se werk en besluit om nie teë te stribbel nie. Ek merk die opskrif lees: “Die geslagsregister van Jesus Christus”. Ek lees van Jotam, van Abia, Asor, Elihud, Mattan en talle ander name waarop ek nog nooit voorheen ag op geslaan het nie. In vers 17 lees ek daar was 14 geslagte van Abraham tot by Dawid, 14 van Dawid tot by die Babiloniese ballingskap en 14 van die Babiloniese ballingskap tot by Christus. Dus 42 geslag vanaf Abraham tot by Jesus.

Elkeen van Jesus se voorgeslagte moes derhalwe sy/haar deel pligsgetrou nakom sodat Jesus 42 geslagte later as die kind van Josef, ‘n Godvresende man, gebore kon word ten einde Sy taak op aarde te kon vervul. Ek besef dat, ongeag wat my voorgeslagte se name was, sy/haar beroep of wat hulle sosiale status in die gemeenskap ookal was, hulle ‘n doelbewuste poging aangewend het om die liefde wat hulle vir God gehad het, aan hulle kinders te kon oordra. Van geslag tot geslag, sonder onderbreking. Alhoewel ek en my vrou dus elkeen ‘n persoonlike verhouding met God het, het ons ‘n verantwoordelikheid teenoor ons kinders om seker te maak dat hulle die aflosstokkie aanvat, daarmee hardloop en suksesvol aangee.  

 

  • Blogger - Hannes Maree

    Hannes is getroud met Yolanda en het 2 kinders, Eloné en Franco. Hy hou daarvan om uiting te gee aan sy kreatiwitiet deur sy skryfwerk en hy poog om deur dié medium ander te inspireer in hulle wedloop van die lewe.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.